Nelspruit-buurtspan takel agterstallige onderhoud waar munisipaliteit tekortskiet
AfriForum se Nelspruit-buurtspan het gedurende September instandhoudingswerk in beide Mbombela (Nelspruit) sowel as Witrivier gedoen weens die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit se voortgesette agterstand in die onderhoud van openbare ruimtes en infrastruktuur. Dié buurtspan takel maandeliks projekte in Mbombela aan, maar het die afgelope maand ook dele van Witrivier opgeknap nadat die omvang van die agteruitgang gewaar is.
Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak, sê die toestand van die twee gebiede weerspieël die gevolge van swak dienslewering en onvoldoende instandhouding. “Inwoners betaal belasting en behoort te kan staatmaak op die munisipaliteit om sy verantwoordelikhede na te kom. Waar dit nie gebeur nie, tree ons buurtspan in om die omgewing te verbeter.”
Die Nelspruit-buurtspan het daarom eers die parke in Mbombela getakel, toe altesaam 15 slaggate op Uitkykweg herstel, 14 sakke vullis en vier sakke vol glas in Belladonnastraat opgetel. ’n Verdere 20 sakke vullis is vanuit verskeie dele van die stad verwyder.


Hulle het ook saam met die gemeenskapsorganisasie The Power of 8000 in Witrivier gewerk om tuinvullis by die kruising van Danie Joubertstraat en die R40 te verwyder. Die span het verder die gras op die padskouers in Danie Joubertstraat by die Witrivier-rugbyklub gesny, die padskouer in Alie van Bergenstraat, asook sowat 300 meter se padskouers vanaf Colts Hill gesny.
“AfriForum se samewerking met The Power of 8000 stel ons buurtspan in staat om praktiese werk te verrig en die agterstand in instandhouding te help aanspreek. Ons sal voortgaan om gemeenskapsinisiatiewe te ondersteun wat daarop gemik is om plaaslike omstandighede te verbeter,” sê De Beer.
Munisipaliteit skop steeds vas
AfriForum het verlede jaar die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit genader met ’n samewerkingsooreenkoms in ’n poging om diensleweringsprobleme doeltreffend die hoof te bied. Ten spyte van hierdie pogings is die munisipaliteit steeds nie bereid om met AfriForum saam te werk nie. AfriForum is van mening dat samewerking tussen die munisipaliteit en georganiseerde gemeenskapsorganisasies noodsaaklik is om dienslewering te verbeter.
“Ons het die munisipaliteit genader omdat ons bereid is om oplossings te help vind. Dit is teleurstellend dat daar steeds nie ’n bereidwilligheid is om die lewens van inwoners te verbeter nie. Intussen bly die agterstand in instandhouding ’n werklikheid waarmee inwoners daagliks moet saamleef,” voeg De Beer by.
“Ons lede se bydraes maak dit moontlik vir die AfriForum-buurtspan om sy werksaamhede voort te sit, maar dit is nie volhoubaar of aanvaarbaar dat belastingbetalers herhaaldelik self moet betaal om agterstallige munisipale instandhouding aan te spreek nie. Die munisipaliteit moet sy verantwoordelikhede nakom en fondse verantwoordelik aanwend om dienste aan inwoners te lewer.”
AfriForum sal voortgaan om diensleweringsprobleme te takel én van die munisipaliteit te vereis om sy verantwoordelikhede na te kom.



