Waterlekkasie, Tshwane-boete
| | |

AfriForum “beboet” Tshwane-metro vir sy eie watervermorsing

Metro moet ophou om inwoners vir waterverliese te blameer, terwyl die metro sélf die sondaar is, sê AfriForum

AfriForum het vandag – in protes teen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se aankondiging dat die metro boetes van minstens R5 000 gaan uitreik aan inwoners wat hulle na bewering aan watervermorsing skuldig maak – ’n “boete” aan die metro self uitgereik. Dié simboliese boete is uitgereik vir die metro se volgehoue watervermorsing wat tot die verlies van meer as ’n derde van water in die metro lei. Die “boete” verkla ook die metro oor die verval van waterinfrastruktuur en die gebrek aan voldoende optrede om waterverliese te beperk.

Die burgerregteorganisasie hou vol dat die Tshwane-metro hom skuldig maak aan dubbele standaarde deur inwoners aanspreeklik te hou vir vermorsing, terwyl die metro self aanspreeklikheid daaromtrent probeer vryspring.

Llewellynn Hemmens, AfriForum se woordvoerder oor Gemeenskapstrukture vir Pretoria, meen AfriForum se protesaksie beklemtoon die ironie van die Tshwane-metro se benadering te midde van hierdie waterkrisis. “Dit is ironies dat die Tshwane-metro inwoners aanspreeklik hou, hulle waarsku en wil beboet vir beweerde watervermorsing, terwyl die metro self enorme hoeveelhede water deur lekkende pype, gebrekkige infrastruktuur en swak instandhouding verloor.”

Die metro het vandeesweek aangekondig dat vlak 2-waterbeperkings ingestel word om huishoudelike waterverbruik tot 20 kiloliter per maand te beperk, en dat diegene wat die beperking verontagsaam boetes van minstens R5 000 opgelê of selfs strafregtelik vervolg kan word.

Volgens die Tshwane-metro se geouditeerde finansiële state vir die 2024/2025-boekjaar het fisiese waterverliese die metro in dié tyd ongeveer R1,36 miljard uit die sak gejaag. Die jongste beskikbare syfers dui daarop dat waterverliese sedertdien van ongeveer 31% tot 35% toegeneem het. Op grond hiervan word die metro se huidige waterverliese op ongeveer R1,5 miljard per jaar – oftewel nagenoeg R4 miljoen per dag – geraam.

Dit is ’n skokkende vermorsing van ’n kosbare hulpbron én openbare geld, benadruk AfriForum.

“Die metro moet ophou om inwoners die skuld te gee vir sy eie mislukkings. Die metro kan nie inwoners aanspreeklik hou vir watervermorsing, terwyl dit self miljoene rande se water daagliks verloor nie. Die metro moet eers sy eie huis in orde kry,” sê Hemmens.

Die metro se hulpbronne, personeel en begrotings moet veel eerder aangewend word om waterlekkasies op te spoor en te herstel, om infrastruktuur te onderhou en waterverliese daadwerklik te verminder.

Om personeel te ontbied om inwoners te beboet, terwyl munisipale lekkasies onbeheersd voortduur, is nie proaktiewe bestuur nie. Dit is blaamverskuiwing. Die oplossing vir die Tshwane-metro se waterkrisis is nie om nóg inwoners te straf nie, maar om die metro se eie infrastruktuur te onderhou en die bestuur aanspreeklik te hou.

AfriForum het intussen vroeër vandeesweek ’n beroep op Johann Mettler, die metro se munisipale bestuurder, gedoen om onder meer die herstel van waterlekkasies te prioritiseer; en ’n plan vir die beperking van waterverliese bekend te maak.

“Die Tshwane-metro verloor na raming R4 miljoen se water elke dag. Dit is tyd dat die metro ophou om inwoners vir boetes te jag en eerder sy eie lekkasies begin jag om dit te herstel. Ons wil nie nog verskonings, veldtogte of beloftes hê nie; ons wil spanne op straat sien wat lekkasies herstel. Water is ’n kosbare hulpbron en die Tshwane-metro moet dit só begin hanteer,” sluit Hemmens af.

AfriForum sal voortgaan om munisipale watervermorsing te dokumenteer, die metro tot verantwoording te roep en druk uit te oefen vir daadwerklike herstelwerk.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf