AfriForum eis dringende optrede teen oud-burgemeester ná maande lange vertraging in vuurwapensaak
AfriForum het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) versoek om die strafregtelike ondersoek na die beweerde roekelose hantering en afvuur van ’n vuurwapen deur die voormalige burgemeester van Johannesburg, Thapelo Amad nou af te handel. Die organisasie het in ’n skrywe aan die SAPD sy kommer uitgespreek oor die feit dat meer as ses maande verloop het sedert die klag in April vanjaar aanhangig gemaak is, sonder dat daar enige duidelike aanduiding is dat die ondersoek afgehandel of aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voorgelê is.
Die saak spruit uit videomateriaal wat in April vanjaar wyd op sosiale media versprei is en waarop ’n man, na bewering Amad, verskeie skote in die lug by ’n begrafnis in Soweto afvuur. Die voorval het na bewering in Augustus 2025 plaasgevind. AfriForum het op 29 April strafregtelike klagte ingevolge die Wet op Beheer van Vuurwapens 60 van 2000 teen Amad aanhangig gemaak.
Die organisasie het reeds in Julie kommer uitgespreek oor die gebrek aan vordering met die ondersoek. Die SAPD het destyds aangedui dat die ondersoek onder meer op die uitkoms van ’n gesigsidentifikasieproses wag. Meer as twee maande later is daar steeds geen duidelikheid oor die afhandeling van hierdie proses of die verkryging van ’n beëdigde verklaring van die adjunkminister van Sosiale Ontwikkeling, Mogamad Ganief Hendricks nie. Hendricks was by dieselfde begrafnis en word as ’n getuie beskou.
Volgens AfriForum is dit onaanvaarbaar dat ’n saak waarin videomateriaal wyd beskikbaar is en moontlike getuies geïdentifiseer kan word, steeds nie afgehandel is nie. Die organisasie wil ook weet of Amad reeds ondervra is en of hy ’n waarskuwingsverklaring of enige ander formele weergawe van die gebeure afgelê het.
AfriForum versoek egter dat die ondersoek nie tot die identifisering van die persoon op die video en die vasstelling of ’n vuurwapen afgevuur is, beperk word nie. Die organisasie wil hê dat die SAPD ook ’n omvattende ondersoek moet instel na Amad se nakoming van die Wet op Beheer van Vuurwapens.
Dit sluit onder meer in dat die SAPD vasstel of Amad oor ’n geldige bevoegdheidsertifikaat beskik, of enige vuurwapens in sy besit behoorlik gelisensieer is en of die wapens met die besonderhede in die Sentrale Vuurwapenregister ooreenstem. Die ondersoek moet ook bepaal of sy ammunisie wettig besit word en of enige vuurwapens in sy besit volgens wetlike voorskrifte veilig bewaar word.
AfriForum verwys in dié verband ook na mediaberigte uit 2023 waarin foto’s gepubliseer is waarop Amad met ’n geweer poseer. Hy het destyds na bewering die publiek uitgedaag om self te bepaal of die geweer eg of ’n speelgoedwapen is. Hoewel die foto’s op sigself nie bewys van enige misdryf is nie, meen AfriForum dat die SAPD die wapen se aard, eienaarskap en lisensiëring moet ondersoek, veral in die lig van die huidige bewerings.
Amad het die bewerings oor die begrafnisvoorval ontken en daar is volgens mediaberigte namens hom aangevoer dat die toestel op die video moontlik ’n loskruitgeweer (blank-firing gun) eerder as ’n konvensionele vuurwapen was. AfriForum meen dit maak dit des te belangriker dat die SAPD die aard van die betrokke toestel vasstel en bepaal of die besit en gebruik daarvan onder die omstandighede wettig was.
Die organisasie bevraagteken ook waarom die ondersoek nie dieselfde dringendheid geniet as ander vuurwapenverwante sake waarin die SAPD opgetree het nie. AfriForum verwys onder meer na die ondersoeke na sake waarby sersant Fannie Nkosi en Stuart James Scharnick betrokke is. In dié gevalle is daar onder meer ondersoeke en fisieke inspeksies rakende vuurwapenlisensies, adresveranderings en die veilige bewaring van vuurwapens gedoen.
Hoewel elke saak op sy eie meriete beoordeel moet word, beklemtoon AfriForum dat die reg gelyk toegepas moet word, ongeag ’n persoon se politieke posisie of verbintenisse.
“Dit is onaanvaarbaar dat ’n ondersoek van hierdie aard maande lank voortsleep sonder dat daar behoorlike vordering of terugvoer is. Die videomateriaal is in die openbare domein beskikbaar en daar is reeds maande gelede aangedui watter ondersoekstappe nog afgehandel moet word. Die publiek verdien om te weet waarom hierdie saak steeds nie afgehandel is nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid.
“Die Wet op Beheer van Vuurwapens geld vir almal. Dit kan nie wees dat die polisie met groot dringendheid teen gewone burgers optree, maar dat sake waarby polities verbonde persone betrokke is, maande lank sloer nie. Dit skep die indruk dat daar twee stelle reëls bestaan en ondermyn vertroue in die strafregstelsel.
“Ons verwag dat die SAPD hierdie saak behoorlik sal ondersoek, alle moontlike oortredings sal ondersoek en dit sonder vrees, begunstiging of vooroordeel sal hanteer. Geen persoon behoort bo die reg verhewe te wees nie,” voeg Broodryk by.
AfriForum versoek die SAPD om dringend terugvoer oor die stand van die ondersoek, die uitstaande ondersoekstappe en of die dossier reeds aan die NVG voorgelê is. Die organisasie sal voortgaan om die saak te monitor en daarop aandring dat die wet konsekwent toegepas word.



