|

Watervermorsing in Mookgophong duur voort ná AfriForum-hulp geweier is

AfriForum se Naboomspruit-tak het nogmaals ’n beroep op die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit gedoen om ’n ernstige lekkasie by die Nyl Wellfield-opgaartenk te herstel. Die watervermorsing wat by dié opgaartenk plaasvind, duur al vir langer as ’n maand sonder enige oënskynlik optrede deur die munisipaliteit. Dit ondanks die feit dat die burgerregteorganisasie op verskeie geleenthede aangebied het om hierdie lekkasies te herstel.

AfriForum het reeds op 7 Julie ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin die situasie by die opgaartenk uitgelig is. Die lekkasie veroorsaak dat een van die kern boorgate wat water aan die Mookgophong-gemeenskap voorsien, nie doeltreffend funksioneer nie. In dieselfde skrywe het AfriForum aangebied om die herstelwerk op eie onkoste te doen.

Die waarnemende munisipale bestuurder, Patrick Shika, het AfriForum op 11 Julie verseker dat die probleem spoedig opgelos sou word. Ná ’n opvolgondersoek het dit egter aan die lig gekom dat geen herstelwerk gedoen is nie. Die tak het daaropvolgend nog ’n skrywe gestuur, waarna die munisipaliteit weer onderneem het om die herstelwerk teen 2 Augustus af te handel.

Teen Maandag (4 Augustus) het AfriForum vasgestel dat die lekkasie steeds voortduur en dat geen herstelwerk plaasgevind het nie. Die pompe is boonop nie afgeskakel nie, wat daartoe gelei het dat duisende liter water vermors is – ’n onverantwoordelike en onaanvaarbare situasie te midde van hierdie waterkrisis.

AfriForum is verder bekommerd dat twee van die drie aanjaagpompe glo ook buitewerking is, wat die risiko inhou dat Mookgophong binnekort heeltemal sonder water kan sit indien dringende stappe nie gedoen word nie.

“Die burgerregteorganisasie het nie net die probleem uitgewys nie, maar ook hulp aangebied om dit op te los. Die munisipaliteit se versuim om verantwoordelikheid te neem, terwyl duisende mense van hierdie watervoorsieningsbron afhanklik is, is onverskoonbaar,” sê Andre van der Schyff, tesourie van AfriForum se Naboomspruit-tak.

AfriForum versoek dat die munisipaliteit onmiddellik aandag aan die probleem gee, die herstelwerk aan die pyp voltooi en verseker dat alle pompe in werkende toestand is om volhoubare watervoorsiening aan die inwoners van Mookgophong te waarborg.

Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om druk toe te pas om elke inwoner se reg op water te beskerm. Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van die oplossing.

Soortgelyke plasings