|

AfriForum-studie wys 8 uit 10 Parysenaars is ontevrede met munisipale dienslewering

Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)
Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)

’n Studie wat AfriForum in Mei en Junie vanjaar onder meer as 800 inwoners van Parys gedoen het, toon dat agt uit elke tien respondente ontevrede is met die dienste wat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit lewer. Dié resultate dui volgens die burgerregteorganisasie op ’n ernstige vertrouensbreuk tussen inwoners en die munisipaliteit.

Dié bevindinge volg kort op die hakke van die opspraakwekkende uitspraak wat op 20 Junie vanjaar in die Hooggeregshof in Bloemfontein gelewer is. Die hof het beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die provinsiale regering moet ingryp omdat die munisipaliteit nie meer aan sy grondwetlike, wetlike én administratiewe verpligtinge teenoor sy inwoners voldoen nie.

Ten spyte van dié beslissing én inwoners se duidelike ontevredenheid met die gehalte van dienste wat in die munisipaliteit gelewer word, het die munisipaliteit nou aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak gedoen. Dié aansoek sal op 12 Augustus aangehoor word.  

Dienslewering in die munisipaliteit het, volgens AfriForum se meningspeiling, nou ’n laagtepunt bereik. Tevredenheid oor die lewering van munisipale dienste is in nege afdelings gemeet, naamlik: parke en ontspanningsgeriewe; verkeersveiligheid; straatligte; kliëntediens by munisipale kantore; riool- en sanitasiedienste; vullisverwydering; padinstandhouding; elektrisiteitsvoorsiening (beurtkrag uitgesluit); en watervoorsiening. Daarbenewens is respondente se mening oor hul tevredenheid met die huidige munisipale leierskap ook ingewin.

’n Totaal van 80,4% van respondente is ontevrede tot baie ontevrede met die munisipaliteit se dienslewering, terwyl 6,4% van respondente tevrede tot baie tevrede is (slegs 1% van respondente is baie tevrede). Sowat 13,2% van respondente is neutraal.

Padinstandhouding, watervoorsiening en kragvoorsiening is die afdelings waaroor inwoners die hoogste vlak van ontevredenheid aangemeld het, met onderskeidelik 99,5%, 96,8% en 95,1% van respondente van ontevrede is met die lewering van dié dienste. ’n Totaal van 90% van respondente is ook ontevrede met dienslewering ten opsigte van parke en ontspanningsgeriewe in dié dorp. Die enigste spreekwoordelike ligpunt in die bevindinge, hoewel gering, is respondente se tevredenheid met die munisipaliteit se vullisverwyderingsdiens – 37,9% van inwoners het aangedui dat hulle tevrede is met dié diens, teenoor 28,4% wat ontevrede is.

Die resultate rakende respondente se tevredenheid met die munisipaliteit se munisipale bestuurder, dr. Futhuli Mothamaha, en die burgemeester, Victoria De Beer-Mthombeni, is oorweldigend negatief. Nagenoeg 95% van respondente is ontevrede met Mothamaha en 80% reken hy moet afgedank word, terwyl 95,1% glo dat De Beer-Mthombeni uit haar pos verwyder moet word.

Benewens die meting van respondente se tevredenheid met dienslewering, het die opname ook ondersoek ingestel na die voorkoms van wateronderbrekings in dié dorp. Volgens die opname ervaar 33,8% van respondente daagliks wateronderbrekings, terwyl 49,5% verskeie kere per week gebuk gaan onder dié probleem. Statistiek van die organisasie Save Ngwathe bevestig hierdie krisis. Luidens hul data is daar in die eerste ses maande van die jaar reeds meer as 33 300 waterverwante klagtes by die munisipaliteit aangemeld. Dit kom neer op meer as 184 klagtes per dag.

“Hierdie uitslae bevestig wat ons al lankal weet – die Ngwathe Munisipaliteit skiet ver te kort in sy grondwetlike plig om basiese dienste aan inwoners te lewer,” verduidelik Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak. Burger hou egter vol dat die organisasie sal voortgaan om druk toe te pas en alternatiewe oplossings te ondersoek om die lewensgehalte van die gemeenskap te verbeter.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier-streek, moet die munisipaliteit veel eerder hul tyd en hulpbronne op dienslewering bestee as om die hooggeregshofuitspraak te probeer omkeer. “Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie die belange van die inwoners op die hart dra nie,” sluit Pretorius af.

AfriForum se Parys-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en saam te werk aan oplossings. Die tak sal die resultate van die opname gebruik om verdere aksie te beplan en druk op die munisipaliteit te verhoog.

Nota vir redakteurs:

Die hooggeregshof se uitspraak (gelewer op 20 Junie 2025) volg ná jare waarin die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit verantwoordelik was vir verwaarlosing, onbevoegdheid en verval wat die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort sonder betroubare dienslewering gelaat het. Die verval is gekenmerk deur onder meer ernstige watertekorte, rioolvuil in strate, vervalle infrastruktuur en ’n begrotingswanorde van miljoene rande.

Volgens die hof moet die Vrystaatse uitvoerende raad binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) van die Grondwet die volgende doen:

  • ’n herstelplan opstel om dienste te herstel en skuldverpligtinge na te kom;
  • die Ngwathe munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel; en
  • elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering.

AfriForum se regspan het op 26 Junie ’n kennisgewing van opponering beteken. As deel van die aansoek om verlof tot appèl moet die regter bepaal of ’n ander hof tot ’n ander besluit sal kom. Indien nie, moet die hooggeregshof se beslissing geïmplementeer word. Indien die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl egter sou slaag, bly die bevel opgeskort totdat die aansoek by die Hoogste Hof van Appèl aangehoor word. In daardie geval sal AfriForum met sy regspan konsulteer om ander opsies te oorweeg.

Soortgelyke plasings