AfriForum eis inligting van Ekurhuleni-metro oor vullisverwyderingsdienste
AfriForum het op 25 Junie ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gerig om volledige besonderhede oor die munisipaliteit se vullisverwyderingsvoertuie, kontrakte, diensverskaffers en inligting rakende die begroting te verskaf. AfriForum het reeds in Mei ’n formele brief aan die Ekurhuleni-metro oor sy swak vullisverwyderingsdienste gerig maar het nog geen terugvoer ontvang nie.
Verder eis die aansoek duidelikheid oor waarom die metro derde partye gebruik om hul werk namens hulle te doen, terwyl die gemeenskap die metro betaal vir húl dienste. Die gemeenskap het die reg om te weet hoe hul geld bestee word en wil weet dat hul maandelikse uitgawes aan die metro tot die verbetering van hul dorp bydra.
Gauteng se vullisterreine is besig om al hoe nader aan Dag Zero te beweeg met twee uit die vyf terreine in Ekurhuleni (Simmer and Jack in Germiston en Weltevreden in Brakpan) wat minder as ’n jaar oor het voordat dit hul kapasiteit bereik. Die Weltevreden-vullisterrein is in Februarie vanjaar weens onwettige mynbouaktiwiteite gesluit, terwyl die Rietfontein-vullisterrein in Springs en die Rooikraal-vullisterrein in Boksburg ná tydelike sluitings in onderskeidelik April 2024 en Maart 2023 heropen is.
“Ons soek antwoorde, want kommunikasie en dienslewering is duidelik nie die Ekurhuleni-metro se sterkpunt nie. AfriForum se Oos-Rand-takke is reeds besig om dienste aan die gemeenskap te lewer, maar sal groter doelwitte kan bereik met die samewerking van die metro,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum aan te sluit.