Terug hof toe met Oudtshoorn-munisipaliteit ná skelmstreke, sê AfriForum
AfriForum het ’n hersieningsaansoek teen die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit se belaglike beleid oor riooltariewe gebring, nadat die munisipaliteit versuim het om aan ’n destydse (2022) hofbevel gehoor te gee. Die hofbevel het die munisipaliteit opdrag gegee om die beleid – wat uitstippel dat riooltariewe per toilet by huishoudings gehef word – aangepas moet word. Die munisipaliteit het egter slegs aan die bewoording van die beleid verander, wat beteken dat geen wesenlike veranderinge op grondvlak teweeggebring is nie.
“Hierdie skelmstreek sal nie AfriForum van stryk bring nie. Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om teen ongeregtigheid soos hierdie te veg. Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie werklik die belange van die inwoners op die hart dra nie, maar eerder daarop uit is om die maksimum inkomste in te win,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum en die Oudtshoorn-munisipaliteit is sedert 2021 in ’n uitgerekte hofstryd gewikkel weens die omstrede riooltariewe, wat die munisipaliteit per toilet bereken. AfriForum voer aan dat dit onnodige druk op byvoorbeeld ’n pensioenarispaartjie plaas wat drie toilette in hul huis het. Hoewel hulle baie minder water gebruik as ’n huisgesin van ses mense met net een toilet, betaal hulle nou meer bloot omdat daar meer toilette in hul huis is.
AfriForum is tydens ’n vergadering op 29 Oktober verlede jaar met Johan Allers, burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, verseker dat die kwessie rondom die beleid feitlik iets van die verlede is. Hy het kort daarna, op 31 Oktober tydens ’n sakenetwerkgeleentheid, weer openlik gesê dat die huidige beleid rakende riooltariewe geensins sin maak nie en dat hy onderneem om die inhoud van die beleid te ondersoek.
“Dit is egter duidelik dat hy óf nie die waarheid gepraat het nie óf nie geweet het waarvan hy praat nie, want steeds bly hierdie beleid feitlik onveranderd. Intussen moet die inwoners onnodiglik opdok hiervoor,” sê Erasmus.
AfriForum stel voor dat die tariewe op grond van waterverbruik per huishouding bereken word, in plaas van per toilet. Artikel 74(2)(b) van die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000) bepaal dat die bedrag wat individuele verbruikers vir munisipale dienste moet betaal, bepaal moet word aan die hand van die gebruik van sulke dienste.
AfriForum se Oudtshoorn-tak moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en vandag nóg ’n positiewe verskil in die gemeenskap te maak. Stuur ’n e-pos aan marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.