Wetsontwerp kan gassektor ondermyn met oormatige staatsbeheer, maan AfriForum
Dit is duidelik dat die Wetsontwerp op Gas nie bloot ’n tegniese opdatering is nie, maar ’n reguleringsmaatreël wat die struktuur van Suid-Afrika se gasmark, die regte van lisensiehouers, mededinging in die sektor, eiendomsreg en beleggersvertroue sal beïnvloed. Dit volgens AfriForum, wat tans sy kommentaar voorberei op die voorgestelde wetgewing, wat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se gesag oor die prys van gas, tariewe en infrastruktuur sal uitbrei.
Die wetsontwerp beoog om aan die minister van Elektrisiteit en Energie asook NERSA wye bevoegdhede oor onder meer lisensiëring, prysbepaling, die goedkeuring van nuwe gasfasiliteite en voorsieningsreëlings te verleen. In sy huidige vorm loop dit die risiko om presies die soort onsekerheid en regulatoriese inmenging te kweek wat belegging ontmoedig.
AfriForum is veral bekommerd oor artikel 17 oor eksklusiwiteit, artikel 18 oor lisensievoorwaardes, artikel 27 oor die gas-meesterplan, artikel 28 oor nuwe gasfasiliteite en voorsiening, artikel 32 oor administratiewe boetes, artikel 33 oor die onteiening van grond, artikel 36 oor regulasies en artikel 39 oor vrystellings.
“Hierdie artikels maak nie geringe aanpassings nie, maar raak aan die kern van wie die mark beheer, hoeveel sekerheid beleggers het en hoeveel diskresie die staat oor privaat aktiwiteite sal kan uitoefen,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.
“AfriForum se standpunt is dat Suid-Afrika ’n stabiele raamwerk vir die gassektor benodig, nie ’n stelsel wat mag sentraliseer, monopolie-risiko’s skep en groot beleidskeuses aan administratiewe diskresie oorlaat nie. Die finale wetsontwerp moet werklike regsekerheid bied, eiendomsreg beskerm en deursigtigheid en aanspreeklikheid op elke stadium verseker. Dit is die enigste manier waarop die sektor beleggers sal lok en ’n aanwins vir die land kan wees.”
AfriForum sal sy formele kommentaar op die wetsontwerp indien en voortgaan om bepalings teë te staan wat mededinging, beleggingssekerheid en die grondwetlike regte van Suid-Afrikaners bedreig.



