AfriForum verwelkom onafhanklike ondersoek na Mangaung-metrohoof, maar waarsku teen politieke inmening
AfriForum verwelkom die Mangaung-metroraad se besluit om ’n onafhanklike ondersoeker aan te stel om bewerings van finansiële wanbestuur, wanadministrasie en bestuursmislukkings teen Sello More, die metro se stadsbestuurder, te ondersoek. Die burgerregteorganisasie beklemtoon egter dat dit van kritieke belang is dat dié ondersoek gevrywaar moet wees van politieke inmenging, binne die voorgeskrewe tydraamwerk afgehandel moet word, en dat die bevindinge na afloop van die ondersoek gepubliseer moet word.
Die aanstelling van ’n onafhanklike ondersoeker volg onder meer op die wydlopende bewerings van wanbestuur teen More en in reaksie op bevindinge van ’n verslag deur die ouditeur-generaal wat in Januarie uitgereik is.
AfriForum het reeds vroeër vanjaar ’n beroep op More gedoen om sy pos te ontruim. Die organisasie het in April aangevoer dat More onmiddellik moet bedank weens die ernstige en voortslepende finansiële wanbestuur en ander bestuurskwessies wat die metro teister. AfriForum hou vol dat dié kwessies die metro se geloofwaardigheid skaad en dienslewering benadeel. Ondanks die metro se swak prestasierekord het More homself boonop in 2024 beloon met ’n reuse-salarisverhoging van nagenoeg R700 000 vir sogenaamde “uitmuntende prestasie”.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, erken die raad met sy besluit om ’n onafhanklike ondersoek te laat doen, dat die aantygings teen More ernstig genoeg is om behoorlik ondersoek te word. “Die inwoners van die Mangaung-metro verdien ’n munisipale administrasie wat verantwoordbaar optree en in belang van die gemeenskap bestuur word,” verduidelik hy.
Groenewald waarsku egter dat die ondersoek nie bloot ’n prosedurele oefening mag wees nie, maar – indien bewerings van wanbestuur teen More bevestig word – moet lei tot daadwerklike optrede.
“Die publiek se vertroue in die metro is reeds ernstig geskaad deur jare se swak bestuur, finansiële probleme en gebrekkige dienslewering. Indien die ondersoek voldoende bewyse van wangedrag oplewer, moet die metroraad sonder versuim dissiplinêre stappe doen en, waar nodig, die saak na die toepaslike wetstoepassingsowerhede verwys. Niemand is bo die wet verhewe nie.”
AfriForum sal die ondersoekproses noukeurig moniteer om toe te sien dat deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoorbare regering in die belang van inwoners in die Mangaung-metro toegepas word.
AfriForum dring steeds aan op die bedanking van More. Voeg jou stem hier by om die eis vir sy bedanking te steun.



