|

AfriForum bemagtig Laerskool Totius om groot impak met klein keuses te maak

AfriForum se teenboeliespan het vandeesweek twee besoeke by Laerskool Totius in Kaapstad afgelê waartydens die leerders aangemoedig is om hul eie invloed raak te sien en doelbewus te kies om deel van die oplossing teen boeliegedrag te wees.

Die aanbieding het gefokus op die herkenning en aanspreek van boeliegedrag in al sy vorme, asook die ernstige impak daarvan op slagoffers. Leerders is veral bewus gemaak van die rol van toeskouers en hoe hul stilte of aanmoediging boeliegedrag kan versterk. Die leerders en onderwysers is verder bemagtig met praktiese riglyne oor hoe om veilig op te tree, ondersteuning te bied en hulp te ontbied.

Volgens Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram, kom boeliegedrag meer gereeld voor wanneer mense dink dat hulle optrede nie saak maak nie.

“Die oomblik wanneer een leerder besluit om anders op te tree, verander die dinamika van ’n hele groep. Boeliegedrag is nie onskuldige gedrag wat maar net verbygaan nie – dit het werklike gevolge en wanneer leerders dit verstaan en verantwoordelikheid neem vir hul eie optrede, begin ’n kultuurverskuiwing plaasvind,” sê Erasmus.

As deel van die sessies is die beeld van die volle wapenrusting van God gebruik om waardes prakties uit te beeld. Leerders is gelei om te besef dat hierdie waardes nie net mooi woorde is nie, maar gereedskap wat hulle daagliks kan gebruik wanneer hulle met konflik, groepsdruk en boeliegedrag gekonfronteer word.

Hendrik Bester, skoolhoof van Laerskool Totius, sê die aanbieding herinner leerders dat waardes staande bly, dat hul keuses gewig dra en dat positiewe optrede ’n daadwerklike verskil kan maak.

AfriForum se besoek vorm deel van ’n voortdurende poging om skole toe te rus met praktiese hulpmiddels en waardegedrewe strategieë om aktief teen boeliegedrag op te tree. AfriForum moedig skole landwyd aan om deel te word van hierdie inisiatief en saam te werk om boeliegedrag daadwerklik die hoof te bied.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners