AfriForum moedig skole in Tshwane-metrogebied aan om kragprobleme aan te meld en skadevergoeding te eis
Die dringende hofaansoek waarmee AfriForum en Laerskool Wierdapark Dinsdag (5 Mei 2026) in die Pretoriase Hooggeregshof geslaag het, bepaal dat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit kragtoevoer na alle skole wie se krag weens die wanbetaling van eiendomsbelasting afgesny is, dadelik moet herstel. Dit bepaal verder dat geen verdere skole se krag om dié rede afgesny mag word nie en dat skole wat hierdeur benadeel is, skadevergoeding van die Tshwane-metro mag eis.
Die saak is aanhangig gemaak nadat verskeie skole in die metropolitaanse gebied letterlik in die duister gelaat is, ten spyte daarvan dat hulle elektrisiteitsrekeninge ten volle betaal is. Hulle eiendomsbelasting, waarvoor die provinsiale owerhede verantwoordelik is, is egter agterstallig. Die Tshwane-metro was dus besig om die onskuldige partye, naamlik skole en weerlose leerders, te straf vir wanadministrasie waaraan hulle geen aandeel het nie.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit prysenswaardig dat skole se beheerliggame die moed aan die dag lê om onverkwiklike situasies soos hierdie met regsaksie aan te pak. Danksy een beheerliggaam se kragdadige optrede, sorg hierdie hofbevel vir die beskerming van álle skole in die metropolitaanse gebied.
“AfriForum moedig dus die beheerliggame van alle ander skole wie se krag steeds weens die eiendomsbelastingprobleem afgesny is, om dringend met ons in aanraking te kom. Ons weet van ten minste een skool wat steeds sonder elektrisiteit is en maan die Tshwane-metro dus nou aan om dit sonder verwyl te herstel of ’n klag van minagting van die hof in die gesig te staar,” sê sy.
AfriForum moedig ook alle skole wat weens hierdie kwessie skade gely het aan om die koste te bereken en daarvolgens eise by die metro in te dien. Dit sluit die koste van diesel vir kragopwekkers in. Die beheerliggame word verder versoek om AfriForum op hoogte van die vordering daarmee te hou. “Ons wil toesien dat die onskuldige slagoffers van hierdie stryd tussen die provinsie en die metro na behore vir hulle verliese vergoed word. As enige aspek van die hofbevel verontagsaam word, staan AfriForum gereed om weer die skole by te staan,” sluit Bailey af.



