Suksesvolle skietdag by Pearly Beach wys op vaardigheid en veiligheid
AfriForum se Pearly Beach-buurtwag het die afgelope naweek ’n suksesvolle skietdag by die plaaslike skietbaan aangebied. Onder leiding van Riaan Booysen, AfriForum se veiligheidsvoorsitter van die Overstrand-buurtwagte, het altesaam 12 skuts aan die dag se aktiwiteite deelgeneem. Booysen het verseker dat alle veiligheidsprotokolle streng nagekom is en dat deelnemers in ’n gestruktureerde en veilige omgewing hul vaardighede kon slyp.
“Die dag was gekenmerk deur goeie samewerking, dissipline en entoesiasme onder die deelnemers. ’n Hoogtepunt van die dag was die uitstekende prestasie van die drie dames wat deelgeneem het. Hulle het hul vaardighede met selfvertroue ten toon gestel en duidelik gewys dat hulle nie onderskat moet word nie,” sê Booysen.
Skietdae soos dié is belangrik vir die ontwikkeling van tegniese vaardighede asook vir die bevordering van verantwoordelike vuurwapengebruik en veiligheid binne die gemeenskap.
“Ons fokus bly op veiligheid, opleiding en die bou van ’n verantwoordelike en goed voorbereide gemeenskap. Skietdae bring mense bymekaar en help om vaardighede op ’n veilige en gestruktureerde manier te ontwikkel,” voeg hy by.
Die Overstrand-tak beplan reeds die volgende skietdae, wat in April by Gansbaai se pistoolbaan en in Mei in Hermanus aangebied sal word. Datums sal nader aan die tyd bekend gemaak word. Belangstellendes word aangemoedig om by www.wordlid.co.za betrokke te raak en deel te wees van toekomstige opleidingsgeleenthede.





