AfriForum bereik skikking oor Wonderfontein-ontwikkeling
AfriForum het gister (23 Februarie) in die Bloemfonteinse Hooggeregshof ’n skikking bereik in verband met die omstrede Wonderfontein-ontwikkeling naby Sasolburg. Die skikking behels onder meer dat die nakomingsvereistes, soos die Metsimaholo-dorpsbeplanningstribunaal dit op 17 Oktober 2019 uiteengesit het, binne vyf jaar ten volle geïmplementeer moet word alvorens erwe geproklameer mag word.
Die hofsaak is gebring teen die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit, die Vrystaatse Departement van Menslike Nedersettings, asook die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, om die onwettige ontwikkeling van die gebied te stop en om te verseker dat die ontwikkeling nie die omgewing en nabygeleë gemeenskappe benadeel nie.
Van die vereistes soos dit deur die Metsimaholo-dorpsbeplanningstribunaal uiteengesit is, sluit onder meer in:
- konsolidasie van erwe soos uiteengesit deur die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur 16 van 2013;
- opknapping van die padnetwerk en infrastruktuur soos uiteengesit in die verkeersimpakstudie;
- aanstelling van ’n onafhanklike kontrakteur om ’n volledige infrastruktuurassessering te doen;
- ontwerp en bou van ’n nuwe rioolaanleg om genoegsame riolering vir die ontwikkeling te bied;
- bou en ontwerp van voldoende stormwaterstelsels; en
- voorlegging van voorlopige ontwerpplanne van die huise wat gebou gaan word in die dorpontwikkelingsgebied (dié planne moet binne ses maande vanaf die goedkeuring van die ontwikkeling ingedien word).
“Ons beskou hierdie skikking, wat in ’n hofbevel vervat is, as ’n groot oorwinning vir die gemeenskap. Dit verseker dat die regte prosesse gevolg word en dat noodsaaklike infrastruktuur in plek gesit word voordat ’n groot aantal inwoners hul in dié gebied vestig,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.
Volgens Grobbelaar gaan hierdie bevel ook beskerming vir die omgewing bied en veral vir die Vaalrivier wat reeds aan besoedeling en onvoldoende rioolbestuur blootgestel word. “Hierdie hofbevel is ’n belangrike stap om te verseker dat die nodige fasiliteite eers in plek is voordat ontwikkeling voortgaan. Ons bly egter bekommerd oor die munisipaliteit se onvermoë om voldoende dienslewering soos vullisverwydering aan huidige inwoners van Sasolburg en Vaalpark te lewer en die feit dat hulle beplan om nóg mense hier te laat vestig.”
Die ontwikkeling, wat uitbreidings 74, 75, 76, 77, 78 en 79 insluit, vorm deel van die Sasolburg-dorpsbeplanningskema wat op 17 Oktober 2019 deur die Metsimaholo-dorpsbeplanningstribunaal goedgekeur is.
AfriForum sal die ontwikkeling noukeurig moniteer en sal nie huiwer om weer die hof te nader indien daar nie streng aan die hofbevel en die tribunaal se voorwaardes voldoen word nie.



