Oos-Kaapse vervolgingshoofde se oëverblindery om vervolging van Mabuyane te vermy deur privaatvervolgingseenheid oopgevlek
Vier maande gelede het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) AfriForum se privaatvervolgingseenheid in kennis gestel dat die saak teen die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane nie gesluit is nie; die Valke is eerder opdrag gegee om verder ondersoek in te stel om gapings in bewyse aan te spreek. In reaksie op ’n brief van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die Valke vandeesweek hierdie weergawe verwerp en onthul dat toe die provinsie se direkteur van Openbare Vervolging (DOV) aanvanklik besluit het om die saak te skrap, daar geen aanduiding was dat verdere ondersoek nodig was nie. Die Valke sê verder dat hul ondersoekers aan die DOV geskryf het om te versoek dat die besluit om nie te vervolg nie, heroorweeg word, maar dit is geïgnoreer en hulle is nooit in kennis gestel van bykomende bewyse wat ingesamel moes word nie.
’n Generaal-majoor by die Valke het benadruk dat daar “op geen punt ooit aan die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke) gekommunikeer is dat daar uitstaande ondersoeke na die saak is nie. As daar so ’n kommunikasie was, sou so ’n ondersoek gevolg en voltooi gewees het”.
In ’n brief aan adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van Openbare Vervolging, het adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, die toeval van hierdie verwikkeling opgemerk terwyl sy getuig voor ’n kommissie van ondersoek na ’n ander DOV se geskiktheid om ’n amp te beklee.
“Hierdie saak moet een van die duidelikste en mees gewetenlose voorbeelde wees van hoe individue wat polities goed verbind is, teen vervolging beskerm word. Die Oos-Kaapse DOV se skaamtelose en oneerlike oëverblindery beklemtoon die irrasionaliteit van die besluit om nie te vervolg nie. Dit wek ook, na ons mening, ernstige twyfel oor die integriteit van die kantoor van die Oos-Kaapse DOV en individue wat by hierdie saak betrokke is. Nie net is ons kliënt mislei nie, maar die Oos-Kaapse DOV het ook [die kantoor van die nasionale direkteur van Openbare Vervolging] mislei,” sê Nel.
Die eenheid verteenwoordig Lonwabo Bam, die sakeman in die middel van ’n korrupsieskandaal wat na bewering fondse onregmatig in sy maatskappy se rekening ingesyfer het en voordele aan verskeie politici verskaf het, wat Mabuyane glo insluit. Die saak hou verband met, onder andere, vervoerreëlings vir die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela.
“Dit is ’n skandelike en verdoemende aanklag teen die NVG dat die Valke, in reaksie op ons brief, die NVG moes nader om ‘duidelikheid te kry oor of enige ondersoek gedoen moes word’. Na aanleiding van die Nkabinde-ondersoek is ons verplig om aan te dui dat die oneerlike verskuiwing van blaam na die SAPD oor hul beweerde versuim om die ondersoek af te handel, ten minste die NVG se naam in oneer moes gebring het. Ons vra daarom [die nasionale direkteur van Openbare Vervolging] om nie net op te tree op grond van die inligting wat verskaf is nie, maar ook om beslissende stappe te doen om die besluit te hersien en die saak na aanklaers met integriteit te verwys wat nie verskonings sal vind om hul irrasionele besluit mee te verdoesel nie,” sluit Nel af.
Die eenheid is seker dat daar ’n sterk saak teen Mabuyane en kie is, maar as die staat weier om hulle aanspreeklik te hou, sal die eenheid met private vervolging begin.



