|

Oos-Kaap-buurtwagte touwys gemaak oor rampbestuur

AfriForum-buurtwaglede in die Oos-Kaap het die afgelope naweek rampbestuursopleiding ontvang om hulle kennis op te skerp oor verskeie aspekte van rampbestuur. Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, het die opleiding in Gqeberha (Port Elizabeth) aangebief en verskeie buurtwaglede het selfs van so ver as Paterson, Colchester en Uitenhage gekom om dié opleiding by te woon. Die doel van hierdie opleiding was om buurtwaglede op te lei om rampbestuursplanne vir hul gemeenskappe op te stel.

Die rampbestuursopleiding het grotendeels te make met die suksesvolle saamstel van ’n rampbestuursplan. ’n Rampbestuursplan behels risiko-identifisering en -assessering, doelstellings, gemeenskapsbetrokkenheid, ontruimingsprosedures en vroeë waarskuwingstelsels met rugsteunstelsels, kommunikasieprotokolle, hulpbrontoewysing en so meer. ’n Rampbestuursplan gee ’n raamwerk vir gemeenskappe en rolspelers om te help om rampe te voorkom, te bestuur indien dit gebeur, en om te herstel ná die ramp verby is. Die doel van ’n rampbestuursplan is eerstens om lewens te beskerm, dan om skade te beperk en om te verseker dat dienste en infrastruktuur so vinnig as moontlik herstel.

Volgens Cooks is dit noodsaaklik dat elke dorp, stad, woonbuurt en selfs elke huis ’n rampbestuursplan in plek moet hê sodat mens nie omkant gevang word wanneer daar ’n ramp plaasvind nie. “Wat doen jy as ’n ramp soos die Knysna-brande van 2017 jou omgewing tref en jy moet vlug. Sal jy weet watter roetes veilig is, weet jy waar jou naasbestaandes is en gaan jou selfoon werk? Ons wil graag glo dat ’n ramp van só aard ons nooit sal tref nie, maar voorsorg is altyd beter as om ná die tyd te wens jy het planne in plek gehad.”

Die opleiding het onder meer behels hoe om prioriteitsrisiko’s te identifiseer, kwesbare areas te bepaal, hoe om gemeenskappe wat in gevaar is by beplanningsprosesse te betrek, en watter kommunikasieprosesse en -protokolle in plek te sit tydens noodgevalle.

“Dit is belangrik om te weet hoe jou gemeenskap gaan koördineer met nooddienste sou die omstandighede dit vereis. Dit is ook belangrik dat belanghebbendes weet wat hulle rol is gedurende ’n rampsituasie, waar moet jy wees, wat moet jy doen om te verseker jy en jou gemeenskap is veilig,” voeg Cooks by.

Volgens Cooks het die Knysna-brande gewys dat nooddienste en die gemeenskap nie voorbereid was op wat gebeur het nie. “Kommunikasie met nooddienste was onmoontlik omdat kommunikasiekanale oorlaai was. Sewe mense het gesterf, 16 000 hektaar se plantasies, fynbos en weiding is vernietig en skade wat miljarde rand beloop is aangerig. Ons moet onsself afvra wat ons uit ander rampe kan leer sodat ons beter voorberei kan wees as so iets ons moes tref.”

Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, verwys na die vloede wat Uitenhage in 2024 getref het. “Die gemeenskap en nooddienste was nie voorbereid nie. Een van die eerste plekke wat oorstroom het was die plaaslike brandweerstasie.”

“As publiek vertrou ons dat ons plaaslike munisipaliteite rampbestuursplanne in plek het vir wanneer die ramp kom. Die realiteit is egter dat die meeste munisipaliteite buite die Wes-Kaap geen rampbestuursplanne of aksies in plek het nie. Die rede vir laasgenoemde is drievoudig, gebrek aan kennis, gebrek aan finansies en ’n tekort aan politieke wil om iets aan die probleem te doen,” voeg Van der Vyver by.

AfriForum beplan om tydens 2026 meer publieke vergaderings te hou om die breër publiek bewus te maak van moontlike rampe sowel as hoe om dit te voorkom, te hanteer en wat ons daaruit kan leer.

Sluit by jou naaste AfriForum-tak aan by www.wordlid.co.za of raak betrokke by jou plaaslike buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za om te help om ’n verskil in jou omgewing te maak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf