| | |

Diplomatieke krisis met VSA is in niemand se belang nie – AfriForum

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die huidige diplomatieke krisis met die VSA is in niemand in Suid-Afrika se belang nie en kon verhoed geword het indien die ANC-leierskap nie AfriForum en die Solidariteit Beweging se pogings om oplossings te help vind, geïgnoreer het nie. AfriForum benadruk dat dit as organisasie, in die belang van almal in die land, steeds daartoe verbind bly om oplossings vir dié krisis te help vind.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ANC-leiers tot dusver pogings om oplossings te vind, aktief teengewerk deur onder meer die Iranse ambassadeur na die ANC-hoofkantoor te nooi en anti-Amerikaanse uitsprake te maak. “Ronald Lamola, minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, wat as minister veronderstel is om internasionale betrekkinge te bevorder, het direk teen Suid-Afrika se belange opgetree deur president Donald Trump in die openbaar daarvan te beskuldig dat hy ’n ‘white supremacy’-agenda het. Lamola het nie omgegee dat sy uitsprake tot vergelding kon lei nie en nou pluk ons almal die wrang vrugte daarvan,” sê Kriel.

Met verwysing na Trump se jongste uitsprake op sosiale media oor plaasmoorde en eiendomsreg, sê Kriel dat daadwerklike stappe vir die bekamping van plaasmoorde en die beskerming van eiendomsreg gedoen moet word aangesien dit die beste wyse is waarop dié kwessies getakel kan word. Volgens Kriel het AfriForum daarom reeds verskeie voorstelle aan die ANC se leiers gemaak om as oplossings in dié verband te dien.

AfriForum stel onder meer die volgende oplossings vir die bekamping van plaasmoorde en die beskerming van eiendomsreg voor:

Plaasmoorde

  • President Ramaphosa moet versoek word om die “Kill the Boer”-dreunsang, wat ’n oproep tot etniese geweld teen Afrikaners is, onvoorwaardelik te veroordeel.
  • Die Suid-Afrikaanse regering moet ten minste erkenning gee aan die feit dat plaasmoorde gepaard gaan met buitensporige marteling en geweld.
  • Plaasmoorde moet tot prioriteitsmisdaad verklaar word, soos reeds die geval is met talle ander misdade, insluitende renosterstropery.
  • Die regering moet besluit dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) amptelik en op ’n beplande wyse landwyd moet saamwerk met plaas- en buurtwagte wat binne die raamwerk van die wet funksioneer.

Onteieningswet

  • Die Suid-Afrikaanse regering moet hom verbind tot die beskerming van eiendomsreg.
  • Artikel 12(3) van die Onteieningswet, wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, moet geskrap word.
  • Artikel 19(2) van die Onteieningswet, wat toelaat dat onteiening plaasvind voordat daar uitsluitsel daaroor in die howe is, moet gewysig word.
Video: Kallie Kriel (Afrikaans)

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners