AfriForum veroordeel aanval op Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein; beloof om op te tree
AfriForum het vandag die Paul Kruger-standbeeld in die Pretoriase middestad besoek om die skade te bepaal wat gisternag aangerig is toe vandale dié beeldegroep op Kerkplein aangeval en ernstig geskend het. ’n Geweerloop en ’n skoen van twee van die Boerekrygerbeelde aan die voet van die Kruger-beeld is afgebreek. Die veiligheidsheining rondom die beeldegroep is ook beskadig.
Dié aanval op die Kruger-standbeeld volg presies ’n week ná die EFF ’n beroep op die vernietiging van Afrikanerstandbeelde in die parlement gedoen het. Tydens dié debat is spesifiek na die verwydering van die Kruger-standbeeld op Kerkplein verwys. Die party het voorts ook vandeesweek ’n mosie in Mpumalanga se provinsiale wetgewer ingedien en aangedring op die verandering van die naam van die Kruger Nasionale Park. Dié doelgerigte aanvalle op Afrikaner-erfenis kom boonop in die week wat Erfenisdag landwyd gevier is.
Intussen het EFF-woordvoerder Sinawo Thambo in sy reaksie op sosiale media die aanval verwelkom en dit as “goeie nuus” beskryf. Hierdie sentiment strook met die EFF se mosie wat aan die parlement voorgelê is as deel van hul veldtog vir die afbreek van Afrikanermonumente.

AfriForum doen ’n beroep op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om die opgradering van sekuriteit by die Kruger-standbeeld sowel as die herstel van die beelde en die veiligheidsheining te prioritiseer.
Volgens Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, is dié aanval die jongste voorbeeld van die huidige toenemende aanslag op Afrikanererfenis. “Dit is nie bloot toeval dat dié skending kom in die week ná die EFF se oproep tot die vernietiging van dié spesifieke standbeeld en ander standbeelde wat aan die wit minderheid gekoppel is nie,” verduidelik hy.
“AfriForum sal voortgaan om die Afrikaner se erfenis te bewaar, maar terselfdertyd ook nuwe monumente, instellings én standbeelde oprig, want as Afrikaners koester ons ’n kultuur van opbou, nie afbreek nie,” sluit Van Zyl af.
