Watergebruikslisensies: AfriForum bevraagteken regstelling as voorvereiste vir aansoeke

Aansoekers om watergebruikslisensies word op die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se aanlyn lisensiëringstelsel gekonfronteer met ’n vereiste wat hulle verplig om bewys te lewer dat die voorgestelde watergebruik historiese rasse- en geslagsdiskriminasie sal regstel, voordat hul aansoeke kan voortgaan. AfriForum meen dat hierdie praktyk ’n administratiewe voorvereiste blyk te skep waarvoor daar nie in die Nasionale Waterwet 36 van 1998 voorsiening gemaak word nie.
DWS se elektroniese stelsel vir aansoeke om watergebruiklisensies (e-WULAAS) lys ’n verpligte dokument wat beskryf word as ’n “motiveringsverslag om artikel 27 aan te roer en te bewys dat die voorgestelde watergebruik die gevolge van historiese rasse- en geslagsdiskriminasie sal regstel”. ’n Aansoeker kan nie met die aansoekproses voortgaan sonder om ’n dokument ingevolge hierdie vereiste in te dien nie.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, vereis artikel 27 van die Nasionale Waterwet dat die verantwoordelike owerheid alle relevante faktore gesamentlik in ag neem wanneer daar besluit word of ’n watergebruikslisensie uitgereik moet word. Dit sluit in die behoefte om historiese rasse- en geslagsdiskriminasie reg te stel, maar ook bestaande wettige watergebruik, die doeltreffende en voordelige gebruik van water in die openbare belang, sosio-ekonomiese gevolge, die uitwerking van die voorgestelde gebruik op die waterbron en beleggings wat reeds deur die aansoeker gemaak is.
Die wet stel nie hierdie faktore vas as ’n kontrolelys van afsonderlike voorwaardes wat aansoekers een na die ander moet nakom nie. Dit sonder ook nie regstelling uit as ’n voorvereiste waaraan eers voldoen moet word voordat ’n aansoek op sy meriete oorweeg kan word nie. Die gewig wat aan individuele faktore geheg word, kan verskil na gelang van die omstandighede van elke aansoek en behoort dus in konteks beoordeel te word.
“’n Meganiese toepassing van die regstelling-oorweging kan tot ’n absurde en skadelike uitkomste lei. ’n Produktiewe onderneming kan byvoorbeeld water doeltreffend gebruik, honderde mense in diens neem, ’n aansienlike bydrae tot die plaaslike ekonomie lewer en min risiko vir die waterbron inhou. Indien sy aansoek nie eens kan voortgaan nie omdat dit nie kan bewys dat die voorgestelde watergebruik ’n spesifieke uitkoms van rasse-regstelling sal bereik nie, kan die gevolge verlore beleggings, die sluiting van ondernemings en werksverliese insluit, terwyl die ander faktore wat volgens artikel 27 in ag geneem moet word, nooit behoorlik beoordeel word nie,” verduidelik De Vaal.
AfriForum het dus die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, versoek om te verduidelik of DWS van voorneme is dat die verpligte “bewys van regstelling”-vereiste as ’n drempel moet dien vir die indien of oorweging van ’n watergebruikslisensie-aansoek. Die organisasie het DWS ook gevra om die regsgrondslag te verduidelik vir die spesifieke insluiting van breë-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (B-GSEB)-status in hierdie verpligte vereiste, aangesien B-GSEB-status op sig self nie as ’n faktor in artikel 27 gelys word nie.
AfriForum het in 2023 ’n soortgelyke bekommernis geopper. Die feit dat ’n soortgelyke vereiste weer op DWS se lisensiestelsel verskyn, is veral kommerwekkend omdat wettige watergebruik deurslaggewend is vir landbou, nywerheid, mynbou en baie ander produktiewe aktiwiteite.
“Administratiewe lisensievereistes moet regsekerheid bied, nie bykomende hindernisse skep wat nie eens deur die parlement voorgeskryf is nie. As die uitvoerende gesag een statutêre oorweging wat die regering se transformasie-ideologie weerspieël tot die drempel verhef wat bereik moet word voordat aansoekers met die res van hul aansoek kan voortgaan of selfs oorweeg sal word, is dit uiteindelik die produktiewe gebruik van water, werksgeleenthede, belegging en ekonomiese groei wat daaronder sal ly,” sluit De Vaal af.
AfriForum sal voortgaan om administratiewe vereistes uit te daag wat die wet oorskry en die produktiewe gebruik van die land se skaars waterbronne onnodig beperk. Diegene wat AfriForum se werk om verantwoordbare waterbestuur te bevorder wil ondersteun, kan www.afriforum.co.za besoek.



