|

Nuuskommentaar: Wat steek Eskom weg?

Deur Ilze Nieuwoudt

Op 29 April 2022 verskyn die vierde volume van die Zondo-kommissie se verslag. In twee volle dele, en oor die bestek van 533 bladsye, het die kommissie sy bevindinge rakende die kaping van Eskom blootgelê. En die gevolgtrekking? Dat ondersoek ingestel moet word na die moontlike vervolging van voormalige Eskom-amptenare wat in die verslag geïmpliseer is vir die “fasilitering van onregmatige kontrakte, korrupsie en finansiële wanbestuur en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur”.

Die kommissie was egter nie die enigste spreekwoordelike stem in die woestyn om te wys op Eskom se finansiële wanbestuur, korrupsie en twyfelagtige kontrakte nie. Die ouditeur-generaal (OG) het verlede jaar weer gewys op probleme met Eskom se kontrakte en aangevoer dat sekere goedere en dienste nie deur ’n billike, regverdige, deursigtige of mededingende verkrygingsproses bekom is nie. Boonop het die OG ook beklemtoon dat Eskom-bestuur nie genoegsame stappe gedoen het om onreëlmatighede, veral ten opsigte van aanbodkettingbestuur, te identifiseer en reg te stel nie.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen ’n regsgeding aangepak om toegang te kry tot Eskom se steenkool- en dieselkontrakte. Die organisasie het op 21 September 2022 reeds ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aansoek gedoen by Eskom om dié kontrakte in die hande te kry. Die kragvoorsiener het egter vasgeskop en geweier om dié inligting beskikbaar te stel – alles onder die dekmantel van vertroulike inligting wat beskerm moet word.

’n Volle 1 359 dae – oftewel 3 jaar, 8 maande en 21 dae – nadat Eskom AfriForum se PAIA-aansoek die eerste keer van die hand gewys het en AfriForum uiteindelik in die hof moes draai om die lewering daarvan met ’n hofbevel af te dwing, het Eskom die 52 kontrakte vroeër vandeesweek gelewer.

Die vraag op almal se lippe is egter: Wat steek Eskom weg? Watter inligting gaan uit hierdie 33 steenkoolkontrakte, 5 verspreidingskontrakte, 7 dieselkontrakte en 7 oorgrenskontrakte aan die lig kom wat Eskom so naarstiglik probeer geheim hou het?

Die vraag op almal se lippe is egter: Wat steek Eskom weg? Watter inligting gaan uit hierdie 33 steenkoolkontrakte, 5 verspreidingskontrakte, 7 dieselkontrakte en 7 oorgrenskontrakte aan die lig kom wat Eskom so naarstiglik probeer geheim hou het?

Om dié vrae te beantwoord gaan AfriForum nou kragte saamsnoer met kundiges in verkryging, energieregulering en openbare finansies om die onderduimshede daarin te ondersoek én bloot te lê.

As deel van Eskom se aankondiging dat dit uiteindelik die kontrakte aan AfriForum gelewer het, voer die groep aan dat dit self ook in die finale fase is van sy forensiese ondersoek na ’n sekere dieselverkryging-en-bergingskontrak (tender MWP2197GX ). ’n Tussentydse verslag hieroor het skynbaar reeds gewys op die nienakoming van Eskom-prosesse ten opsigte van die verkryging en bestuur van die kontrak. Die finale verslag hieroor sal na verwagting later vandeesmaand beskikbaar gestel word.  

Mteto Nyati, voorsitter van die Eskom-raad, het dit in Mei vanjaar duidelik gestel dat hulle nie enige korrupsie of misbruik van Eskom se prosesse sal duld nie. Boonop is aangevoer dat Eskom se ondersoek dui op die entiteit se bestuur van risiko’s, die deursigtige eskalasie daarvan en die afdwinging van aanspreeklikheid.

Terwyl Eskom aan die een kant tender MWP2197GX en die skynbare onreëlmatighede daarvan ondersoek, pak AfriForum se paneel die ondersoek na 52 kontrakte.

Volgens die burgerregteorganisasie se Morné Mostert, gaan die kontraktesaak nie net oor die verkryging van die dokumente nie. Maar oor Suid-Afrikaners se reg om te weet hoe miljarde rande se staatsfondse bestee word deur een van die land se belangrikste staatsentiteite.

“Deursigtigheid is die hoeksteen van verantwoordbaarheid, en dit is ’n voorvereiste vir die herstel van vertroue in die land se openbare instellings. Die bekendmaking van hierdie kontrakte is nie die einde van die proses nie; dit is die begin van ’n behoorlike openbare ondersoek,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik