| | |

Vervalle dienslewering: Mangaung-metro moet prioriteite heroorweeg, eis AfriForum

Die AfriForum-takke in Bloemfontein doen ’n beroep op die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit om onmiddellik munisipale uitgawes vir die herstel en instandhouding van basiese dienste te herprioritiseer. Dié versoek volg na die voortdurende agteruitgang van munisipale dienste, volgehoue ​​finansiële wanbestuur en die voortgesette prioritisering van nie-noodsaaklike projekte ten koste van noodsaaklike verpligtinge met betrekking tot dienslewering.

AfriForum het verneem dat die metro steeds aansienlike finansiële en menslike hulpbronne aan sekondêre projekte toewys, insluitend die beplande heropening van die Bloemfontein-dieretuin. Intussen ervaar inwoners toenemend probleme met onder meer vullisverwydering, die instandhouding van water- en padinfrastruktuur, asook water- en elektrisiteitsvoorsiening. Dit alles gebeur teen die agtergrond van die ouditeur-generaal se bevindinge vir die 2024/2025-boekjaar, wat ongemagtigde uitgawes van R1,36 miljard en ’n patroon van swak finansiële beheermaatreëls, onvoldoende gevolgebestuur en nie-nakoming van statutêre verpligtinge weerspieël.

“Voortgesette uitgawes aan nie-noodsaaklike projekte terwyl kritieke infrastruktuur soos paaie, vullisterreine, waterwerke en fasiliteite wat afvalwater behandel in ’n toestand van agteruitgang verkeer, wek ernstige kommer,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

In ’n brief wat AfriForum op 10 Februarie aan die Mangaung-metro gestuur het, eis die organisasie dat die metro verdere besteding aan nie-noodsaaklike en sekondêre projekte opskort totdat dienslewering gestabiliseer het en finansiële dissipline bereik is; dat die metro ’n geskrewe, tydsgebonde herstelplan wat intervensies, begrotingstoewysings en verantwoordelike amptenare vir die rehabilitasie van kritieke infrastruktuur uiteensit, verskaf; en dat doeltreffende gevolgebestuur vir ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes, in ooreenstemming met toepaslike wetgewing, geïmplementeer word.

Die metro het 10 werksdae om op AfriForum se versoek te reageer.

“Inwoners betaal die prys vir ’n munisipaliteit wat sy prioriteite geheel en al misplaas het. Die toewysing van fondse en personeel aan projekte wat geen onmiddellike verligting aan inwoners bied nie, terwyl kernverantwoordelikhede soos vullisverwydering en basiese instandhouding aan infrastruktuur verwaarloos word, is beide onredelik en onverdedigbaar. ‘n Munisipaliteit kan nie toerisme- of prestigeprojekte geloofwaardig nastreef terwyl dit nie sy strate skoon of sy waterstelsels funksioneel kan hou nie,” sê Groenewald.

Die organisasie sal voortgaan om die situasie noukeurig te moniteer en alle beskikbare burgerlike en regsmiddele te oorweeg om belastingbetalers te beskerm en die metro tot verantwoording te roep. Gemeenskappe verdien ’n munisipaliteit wat hul kernverpligtinge nakom, nie een wat luukse projekte prioritiseer terwyl basiese dienste in duie stort nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf