|

Uitspraak voorbehou in saak oor bekendmaking van matriekuitslae

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgreep: Alana Bailey (Engels)

Uitspraak is vandag voorbehou in die saak waarvan AfriForum deel is oor die bekendmaking van matriekuitslae in koerante en op ander openbare platforms. Dit is gister en vandag (27 en 28 Oktober 2025) deur ’n volbank regters in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die geskil oor die openbare bekendmaking van matriekuitslae in 2022 begin toe die Departement van Basiese Onderwys (DBO) dit probeer verbied het. In regsaksie wat gevolg het, het die regter AfriForum en die ander betrokke partye destyds gelyk gegee dat die bekendmaking van die uitslae in openbare belang is en dat die gebruik van eksamennommers in plaas van die matrikulante se name voldoende beskerming vir hulle privaatheid bied.

Aan die einde van verlede jaar het die Inligtingsreguleerder (IR) probeer verhoed dat die DBO die 2024-matriekuitslae bekend maak. Die IR se aansoek om ’n interdik daarteen te verkry, het egter op 8 Januarie 2025 misluk toe regter Ronèl Tolmay uitspraak ten gunste van die publikasie daarvan gelewer het. ’n Bevel is toe uitgereik dat die uitslae wel gepubliseer moet word. Hierdie bevel is steeds geldig en die DBO voer daarom aan dat dit geen ander keuse het as om die IR se instruksie om publikasie van die uitslae te weerhou, teen te staan nie.

In die hofsaak wat Maandag ’n aanvang geneem het, is die meriete van die bekendmaking nou beredeneer, wat ook argumente oor die aard van persoonlike inligting en die belange van diegene wat toegang tot die matriekuitslae deur openbare platforms verlang, ingesluit het.

AfriForum is een van die partye wat ten gunste van openbare bekendmaking is. “Matrikulante versoek AfriForum gereeld om te help verseker dat hulle hulle uitslae steeds in die media sal kan kry soos in die verlede. Ons sal hulle belange in dié verband sover as moontlik beskerm. Dit is verder van belang dat meer duidelikheid verkry word oor wanneer individue se privaatheid ten alle koste beskerm moet word, en wanneer bekendmaking van inligting geag word om in openbare belang te wees. Die uitspraak in hierdie saak sal bydra om meer sekerheid hieroor te skep,” sê Bailey.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf