| |

Tshwane geensins veiligste metro, net minder gevaarlik danksy AfriForum en kie se pogings

Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit misgis homself as hy dink dat die State of South African Cities-verslag vir 2024, wat dié metro doop as een van die minder gevaarlike metropole in die land, beteken dat die metro ’n veilige tuiste vir sy inwoners is. AfriForum is van mening dat inwoners van dié metro nie net daagliks ernstige gevare moet trotseer nie, maar dis danksy die ingrypings van die burgerlike samelewing dat die metro enigsins minder gevalle van misdaad het in vergelyking met ander stede in die land.

“As die Tshwane-metro geag word as van die minder gevaarlike metropole in die land, is dit aanduidend van hoe beroerd die misdaadsituasie elders in die land is en hoe belangrik gemeenskapsbetrokkenheid is by die voorkoming en bekamping van misdaad,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

AfriForum se daaglikse betrokkenheid by gemeenskappe in die vorm van buurtwagte, wys duidelik dat Tshwane steeds as ’n uiters gevaarlike gebied beskou moet word en dat geen verklarings dat die metro die veiligste stad in die land is, inwoners moet aanmoedig om slap te gaan lê nie. Kabeldiefstal, inbrake, gewapende roof en kapings is aan die orde van die dag. AfriForum, tesame met ander veiligheidsmaatskappye, het egter die afgelope paar jaar ’n aktiewe rol in die beveilig van die metro geneem en deur dié pogings daadwerklik misdaad help voorkom.

Die burgerregteorganisasie is by verskeie veiligheidsinisiatiewe betrokke, insluitend:

  • die vestiging van buurt- en plaaswagte wat daagliks buurte patrolleer;
  • die beskerming van kritieke infrastruktuur deur die installering van kameras en ander tegnologie — ’n noodsaaklikheid gegewe die gereelde voorkoms van kabeldiefstal;
  • die oprigting van LPR-kameras regoor Pretoria om gesteelde voertuie op te spoor; en
  • strategiese samewerkingsooreenkomste met private sekuriteitsmaatskappye en ander organisasies wat toenemend gefrustreerd is met die gebrek aan daadwerklike optrede van die owerhede.

“Die feit dat gemeenskappe hul eie veiligheid moet bestuur en finansier, behoort nie die norm te wees nie. Op voetsoolvlak moet gemeenskappe steeds paraat bly of die duurste prys daarvoor betaal,” sê Hemmens.

AfriForum sal voortgaan om hande te vat met gemeenskappe en ander rolspelers om gebiede daadwerklik te verbeter en beveilig.

Soortgelyke plasings