Toonaangewende uitspraak: Hof las NVG met AfriForum se privaat vervolgingskostes in aanrandingsaak
Die Mamelodi-landdroshof het in ’n toonaangewende uitspraak die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gelas om die kostes te betaal wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangegaan het nadat die eenheid ’n man suksesvol vervolg het vir die aanranding van sy buurvrou. Die Mamelodi Landdroshof het verlede jaar op 12 November Irvin Thabo Ngobeni skuldig bevind aan die aanranding van Nthabiseng Sebothoma – ’n oorwinning in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld. Hy is drie maande tronkstraf of ’n boete van R6 000 opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is.
Artikel 15(2) van die Strafproseswet bepaal dat ’n hof die staat kan las om private vervolgingskostes en -uitgawes te dek indien privaat vervolging ingestel is nadat die staat geweier het om te vervolg én die beskuldigde dan skuldig bevind word. In hierdie geval was die privaat aanklaers advokate Phyllis Vorster en Obed Tongoane.
Vorster voer aan dat die NVG se irrasionele besluit om Ngobeni nie te vervolg nie privaat vervolging genoodsaak het, wat kostes tot gevolg gehad het. “Dit is gepas om daarop te wys dat die NVG versuim het om die vervolging te monitor met die oog daarop om tot die saak toe te tree toe die feite bekend geword het. Nóg erger is die NVG se versuim om vir vonnisdoeleindes die vervolging oor te neem. Die NVG het die geleentheid laat verbygaan om die koste verbonde aan ’n privaat aanklaer, te verminder,” sê Vorster.
Die saak spruit uit ’n voorval op 23 September 2023, toe Sebothoma deur haar buurman, Ngobeni, in Moretele View wakker gemaak is. Hy het beweer dat iemand sy motorsleutels op die dak van haar huis gegooi het en dat hy toegang tot die eiendom benodig om dit op te spoor. Toe Sebothoma hom versoek het om terug te keer wanneer dit lig is, het hy haar beledig en gedreig om haar dood te maak. Toe sy hom toegang tot die eiendom geweier het, het hy haar aangerand deur haar te slaan en te skop, asook om haar te krap en haar klere te skeur.
Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, sê die kostebevel is ’n belangrike mylpaal in die ontwikkeling van private vervolging in Suid-Afrika. “Hierdie kostebevel is ’n bewys van die NVG se onverklaarbare versuim om sonder vrees, guns of vooroordeel te vervolg. Dit stuur ’n boodskap dat daar gevolge is wanneer die strafregstelsel slagoffers in die steek laat. Dit is ontstellend dat ons eerste drie private vervolgings, wat die NVG besluit het om nie te vervolg nie, almal geslagsgebaseerde geweld behels het. Dit wys dat die strafregstelsel slegs lippediens lewer aan sy verklarings om sake te prioritiseer wat vroue en kinders betref,” sê Nel.
Die hofbevel is ook aanduidend van die hoë koste om geregtigheid te laat seëvier – wat baie Suid-Afrikaners nie kan bekostig nie – wanneer die NVG versuim om misdadigers aanspreeklik te hou vir hul dade. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om privaat vervolging ’n lewensvatbare en toeganklike alternatief te maak in die stryd teen selektiewe vervolging én om die oppergesag van die reg te handhaaf te midde van ’n vervalle strafregstelsel.