Strand, see, somerpret én lewensredding by AfriForum Jeug se eerste lewensredingkamp
’n Groep tieners van verskeie skole in die Wes- en Oos-Kaap het die afgelope naweek saam met AfriForum Jeug in Hermanus byeengekom vir daai lekker sand tussen die tone ervaring as deel van dié organisasie se eerste lewensreddingskamp. Opleiding is aangebied deur See-en-Sand, leiers op die gebied van lewensredding- en buitelugprogramme.
’n Totaal van 19 tieners, tussen 16 en 18 jaar oud, het dié kamp bygewoon en is touwys gemaak oor basiese lewensreddingstegnieke. Daar is spesifiek gefokus op lewensredding in die see. Die AfriForum takke in Uitenhage en Kaapstad-Noord het die kamp moontlik gemaak.
Hanno Koster, jeugleier van AfriForum Jeug, bestempel dié opleiding as insiggewend en noodsaaklik vir elkeen wat die see aandurf. “Ons het werklik baie geleer oor wat om te doen wanneer jyself in die moeilikheid beland. Ons het egter ook geleer wat om te doen as iemand anders in die see in ’n noodsituasie beland. As ’n mens aan ’n lewensredder dink, dink ’n mens dikwels aan die lewensredder wat langs ’n swembad sit, maar in die see is daar baie meer faktore om in ag te neem as ’n lewensredder by ’n swembad,” verduidelik hy.
Kursusgangers het onder meer geleer hoe om seestrome van die strand af te lees, wat om te doen as ’n seestroom jou meesleur en hoe hom tydens ’n noodgeval kalm te bly. Daar is ook geleer watter mossel tydens ’n noodgeval geëet kan word en hoe om ’n beseerde persoon veilig van een plek na ’n ander te verskuif.

Abiah Louw, hoofdogter van die Hoërskool Bellville, het ook dié kamp bygewoon. “Dit was ’n wonderlike geleentheid en ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. Ons het as hoofleiers ongelooflik nader aan mekaar gegroei en geleer hoe om regtig saam te werk,” sê sy.
Die kursus wat die naweek aangepak is, is ’n korter weergawe van die weeklange lewensreddingskursus. Laasgenoemde word internasionaal erken en kursusgangers kry ’n sertifikaat ná voltooiing van die kursus . Hiermee kan hulle oorsee gaan werk of deeltyds oor vakansietye op een van Suid-Afrika se menigte openbare strande help om strandgangers veilig te hou.
“Hierdie kursus was wel net ’n voorsmakie van die geakkrediteerde kursus, maar die terugvoer was oorweldigend positief en ons wil graag weer volgende jaar ’n groep jongmense vir die opleiding vat en selfs oorweeg om hulle vir die langer kursus in te skryf.
“Dit was wonderlik om te sien hoe die kinders hul vrese oorkom. Baie van hierdie jongmense se ouers is reeds by AfriForum se strukture ingeskakel en ons het ook die geleentheid gebruik om die kinders bietjie meer te vertel van wat AfriForum doen en hoe ons in ons gemeenskappe woeker. Van die kinders het reeds gesê hulle wil by ons strukture betrokke raak en ons sien daarna uit om jonger mense ook in die organisasie te verwelkom,” sluit Koster af.
Hou AfriForum Jeug se sosialemediaplatforms dop vir meer oor hul bedrywighede vir die res van die jaar en wat hulle vir 2027 beplan.



