|

Sonkragregistrasie: AfriForum bevraagteken wettigheid van nuwe reëls, maan teen moontlike geldmaakplan

Deidré Steffens (Afrikaans)
Deidré Steffens (English)

AfriForum bevraagteken die wettigheid van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se reëls vir sonkragregistrasie wat vandag in die Staatskoerant gepubliseer is en waarsku dat die registrasie van sonkrag moontlik kan lei tot die afdwing van bykomende heffings.

Dié reëls, bekend as “Rules for distributors to keep a register of facilities with capacities of not more than 100 kW”, maak voorsiening vir die opstel van elektrisiteitsopwekkingsinstallasie-registers deur elektrisiteitsverspreiders, soos munisipaliteite en privaat verspreiders. Verbruikers kan gevolglik verplig word om inligting en stawende dokumentasie oor hul sonkraginstallasies te verskaf.

Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, meen egter dat Nersa se nuut gepubliseerde reëls lynreg in stryd is met die bepalings van die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006. Artikel 2A(2)(c) sluit opwekkingsinstallasies met ’n kapasiteit van hoogstens 100 kW uitdruklik van die toepassing van die wet uit. Ondanks hierdie duidelike wetsbepaling het Nersa voortgegaan met reëls wat registrasievereistes juis op hierdie installasies wil afdwing. AfriForum het reeds op 13 Augustus 2026 in sy formele voorlegging aan Nersa op hierdie wesenlike teenstrydigheid met die wet gewys.

“Nersa kan nie reëls instel wat in stryd is met die einste wetgewing waaraan hy sy bevoegdheid ontleen nie. AfriForum sal met sy regspan oorleg pleeg om te bepaal watter stappe gedoen kan word om hierdie reëls te betwis,” sê Mostert.

Hoewel Nersa die registrasievereistes voorhou as ’n maatreël om die veiligheid en betroubaarheid van die elektrisiteitstelsel te beskerm, is AfriForum bekommerd dat die registers uiteindelik gebruik kan word om bykomende heffings op sonkrageienaars af te dwing.

Volgens Deidré Steffens, adviseur vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, hou die nuwe reëls beduidende risiko’s in vir eienaars van sonkragstelsels. “Munisipaliteite is histories sterk afhanklik van elektrisiteitsverkope om hul bedrywighede te finansier. Namate meer huishoudings, boere en ondernemings in sonkrag belê, neem munisipale inkomste uit elektrisiteitsverkope af. Hierdie registers kan munisipaliteite van die nodige inligting voorsien om bykomende vaste heffings, beskikbaarheidsgelde of sonkragverwante heffings in te stel,” waarsku sy.

AfriForum benadruk dat munisipaliteite moontlik nie oor die nodige administratiewe kapasiteit beskik om bykomende registrasievereistes doeltreffend te hanteer nie. Dit kan tot onnodige vertragings en administratiewe rompslomp lei.

“Suid-Afrikaners behoort nie toestemming van wanfunksionele munisipaliteite te hê om hulself teen ’n onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening te beskerm nie. Hulle behoort ook nie met bykomende heffings gestraf te word omdat hulle op eie koste in alternatiewe energie belê het nie,” sluit Mostert af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik