Slegs 1 uit 22 vullisterreine in Vrystaat voldoen aan vereistes – AfriForum
Slegs 1 van die 22 vullisterreine, oftewel 5% van terreine, in die Vrystaat wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, naamlik die Vaalpark-oorlaaistasie in Sasolburg, voldoen aan die mees basiese vereistes van vullisterreinbestuur. Die provinsie het boonop, naas die Noord-Kaap wat ’n gemiddelde nakomingspunt van 13% behaal het, die swakste in die land gevaar en kon net ’n gemiddelde nakomingspunt van 18% aanteken. Die oudit se resultate toon ernstige sistemiese verval ten opsigte van vullisterreine in die provinsie, waarsku die burgerregteorganisasie.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die gemeenskap en omgewing teen besoedeling te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Die Vrystaat – waar 95% van terreine wat vanjaar geoudit is nie aan 80% of meer van die ouditvereistes kon voldoen nie – kon ten spyte van dié swak prestasie vanjaar vir die eerste keer in vyf jaar ’n terrein oplewer wat aan die ouditvereistes voldoen. Nie een van die 23 terreine wat in 2021 geoudit is óf die 24 wat in 2022 geoudit is óf die 27 wat in beide 2023 en 2024 geoudit is, kon die oudit slaag nie. Hoewel die gemiddelde nakomingspunt in die provinsie ’n geringe verbetering van 14% tot 18% getoon het, bevestig die oudit weereens dat vullisterreine in dié provinsie ernstige risiko’s inhou en waarskynlik skuldig is aan lug-, water- en grondbesoedeling.
Elf, oftewel die helfte, van alle terreine wat in die Vrystaat geoudit is, kon nie eens ’n nakomingspunt van 10% (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Parys-terrein, Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (8)
- Welkom-terrein, Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit (8)
- Frankfort-terrein, Mafube Plaaslike Munisipaliteit (8)
- Heilbron-terrein, Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (8)
- Harrismith-terrein, Maluti-A-Phofung Plaaslike Munisipaliteit (6)
- Senekal-terrein, Sesotho Plaaslike Munisipaliteit (6)
- Bothaville-terrein, Nala Plaaslike Munisipaliteit (4)
- Reitz-terrein, Nketoana Plaaslike Munisipaliteit (4)
- Viljoenskroon-terrein, Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit (4)
- Deneysville-terrein, Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit (2)
- Hennenman-terrein, Matjibeng Plaaslike Munisipaliteit (0)
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, benadruk dat die verval in die provinsie – ook ten opsigte van vullisterreine – ernstige afmetings aanneem. “Nie een van die vullisterreine in die Mooirivier-gebied voldoen eens naastenby aan die vereistes van verantwoordelike afvalterreinbestuur nie. Dié terreine, in Heilbron en Parys wat albei in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is, is in ’n haglike toestand en buite beheer. Die informele herwinnaars intimideer telkens die publiek wat die terreine besoek, keer hulle voor of spring selfs op voertuie. Dit lei daartoe dat die publiek dikwels vullis buite die terrein stort omdat hulle vrees vir hul veiligheid op die vullisterreine,” benadruk Pretorius. Sy hou vol dat die swak bestuur en onveilige toestande tot ernstige besoedeling van die omgewing lei.
Volgens Christa Ikking, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek, is al die vullisterreine in dié deel van die Vrystaat – wat alles behalwe die Noord-Vrystaat en Bloemfontein insluit – sonder uitsondering nie op standaard nie. “Talle terreine beskik nie oor die nodige lisensies nie, daar is nie genoegsame toesig of sekuriteit nie en verwerking en herwinning van vullis bestaan nie. Boonop verkies die gemeenskap om eerder vullis onwettig langs die pad te stort omdat terreine net te ontoeganklik en gevaarlik is. Dié aspekte dra alles by tot ernstige besoedeling van onder meer die Vrystaatse dorpe se waterbronne,” verduidelik sy.
AfriForum sal nou die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.