|

Rioolramp in Upington: AfriForum dien strafregtelike klagtes in teen munisipale bestuurder

Sy versuim om ’n einde te maak aan die rioolramp wat in Upington woed, kan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit se munisipale bestuurder, dr. Elias Ntoba, duur te staan kom ná AfriForum vandeesweek strafregtelike klagtes teen hom gelê het. Die klag is Maandag (28 September) by die Upington-polisiestasie aanhangig gemaak ingevolge artikel 151 van die Nasionale Waterwet. Dié artikel kategoriseer onder meer die opsetlike of nalatige besoedeling van waterbronne as ’n strafbare oortreding.

AfriForum se klagte volg op Ntoba se maande lange versuim om die krisis rakende die rioolbesoedeling uit die Louisvaleweg-oksidasiedam te takel. Die burgerregteorganisasie dring reeds sedert Augustus by Ntoba aan om in te gryp by die besoedelingsramp nadat die oksidasiedam begin lek en dit duidelik geraak het dat onverwerkte riool daaruit tot in die Oranjerivier vloei.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, wat die klag namens AfriForum gelê het, het die burgerregteorganisasie Ntoba in Augustus en September vanjaar skriftelik van die lekkasie en die daaropvolgende besoedeling in kennis gestel. Ntoba het nie op enige van AfriForum se skrywes gereageer nie. Daarin het AfriForum uitdruklik gewys op die gevaar wat dié besoedeling vir die omgewing en die gesondheid van inwoners van veral die Louisvaleweg-gemeenskap inhou.

AfriForum het intussen op 22 September watermonsters in ’n afloopstroom sowat 2 km vanaf die oksidasiedam geneem en by ’n onafhanklike geakkrediteerde laboratorium ingehandig om die aard en omvang van besoedeling te bepaal. Die toetsresultate wys op die teenwoordigheid van hoë vlakke van koliforme bakterieë en E.coli in die water wat tans uit die dam vloei. Volgens die resultate is meer as 123 000 kolonievormende eenhede (CFU) koliforme en 800 CFU E.coli per 100 ml aangeteken. Om aan die minimum mikrobiologiese standaarde te voldoen, moet afvalwater minder as 1 000 CFU fekale koliforme teenwoordig wees in 100 ml.

Strauss hou vol dat Ntoba se versuim om op AfriForum se herhaalde, dringende versoeke te reageer kommerwekkend en teleurstellend is. “Die riool vloei tans verby skole, klinieke, ondernemings en selfs deur die PepsiCo/Pioneer Foods SAD-terrein voordat dit uiteindelik in die Upington-kanaal land, wat op sy beurt in die Oranjerivier vloei. Ondanks die reuse-risiko wat dit vir die gemeenskap inhou en die feit dat die verantwoordelikheid vir die herstel van die dam en die voorkoming van besoedeling op die skouers van die munisipaliteit rus, steur die Ntoba hom skynbaar nie daaraan nie. In die lig van die erns van die besoedeling het ons geen ander keuse gehad as om ’n strafregtelike klag teen Ntoba in te dien nie,” beklemtoon Strauss.

“Onmiddellike optrede is nou noodsaaklik om die impak van die ramp te beperk en Ntoba tot verantwoording te roep vir sy nalatigheid. AfriForum staan bankvas agter die Louisvaleweg-gemeenskap en sal voortgaan om hul regte te verdedig totdat dié besoedeling gestaak word,” sluit Strauss af.

Die strafregtelike klag teen Ntoba sal nou eers deur die polisie ondersoek word.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid, Magsmisbruik