|

Woorde: gebruik, bedoeling en begrip

Deur Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking

’n Mens se verstaan van ’n woord kan beïnvloed word deur jou lewens- en wêreldbeskouing, of anders gestel, die ideologie wat jy aanhang of wat jou denke onderlê – wetend of onwetend – kan jou begrip van ’n woord bepaal.

Woorde kan weliswaar as wapens gebruik word, en is al so in die verlede gebruik. In die eerste plek kan ’n woord vir ’n groep ’n sekere betekenis vir hulself inhou – terwyl die woord in werklikheid na buite ’n teenoorgestelde betekenis dra, en die doel het om te beïnvloed. So byvoorbeeld was die ANC se sogenaamde “selfverdedigingseenhede” nie verdedigende groepe nie en het dit inderwaarheid ’n offensiewe rol gespeel om, in die ANC se woorde, “die rewolusie te verdedig”. Dié “verdediging van die rewolusie” het egter primêr aanvalle, en nie verdediging nie, vereis. Dit is ’n deel van die verduideliking vir die skrikwekkende geweld van die vroeë 1990’s.

Dié soort gebruik van ’n woord wat dan in werklikheid weerspreek word, is geen nuwe verskynsel nie. Die woord “demokrasie” word al lank op dieselfde manier misbruik om wanvoorstellings te maak. Die amptelike naam van die Noord-Koreaanse staat, byvoorbeeld, is die Demokratiese Volksrepubliek Korea, terwyl dit ’n totalitêre staat is met geen sweempie demokrasie nie.

Net so word die woord “vryheid” vandag in ons samelewing, veral deur politici, gebruik, terwyl daar eintlik dwingelandy en totale beheer daarmee bedoel word. Tydens ’n onlangse onderhoud het oudminister Naledi Pandor onder meer die volgende gesê: “Ons is te ongeërg met ons vryheid.” Dié uitlating maak sy terwyl sy ernstige kritiek uitspreek op ’n taalgemeenskap wat die bestaande ruimte gebruik om op eie inisiatief ’n moedertaal-hoëronderwysinsteling te bou.

Hoe verstaan en wat bedoel Pandor dan met “vryheid”? Dit is duidelik dat sy vryheid gelykstel aan die reg van mense om te stem. Individue het die “vryheid” om te stem, en die politici het dan die “vryheid” om hul plan uit te voer en hul ideologie te bevorder – selfs al benadeel dit die mense wat gestem het. In eenvoudige taal is Pandor se bedoeling met vryheid duidelik dat dit beperk is tot diegene wat die ANC se ideologiese agenda en hul toekomsvisie, van ’n staat waar alle mag gesentraliseer is, dien. Daarvolgens durf jy nie jou vryheid as iets meer as stemreg beskou nie – alle verdere denke en dade hoort by die sentrale staat.

“Vryheid” dra egter vir baie gemeenskappe en burgers ’n totaal ander betekenis. Vir baie van ons is vryheid die ruimte en vermoë om jou Godgegewe roeping uit te leef, en ’n vervulde lewe tot God se eer na te jaag. Vir ’n kultuur-, plek- of geloofsgemeenskap behels vryheid veral om self die toekoms te bepaal, en self besluite te neem oor sake wat vir die gemeenskap belangrik is.

Vryheid van hierdie aard beperk nooit ’n ander mens of groep se vryheid, of die ruimte om te dink, te doen en te leef, nie. Wanneer jou “vryheid” my “vryheid” inperk, is dit geen vryheid meer nie. Dan dit is magsvergrype en dalk selfs onderdrukking. Wanneer een groep, met ’n totaal anderse lewens- en wêreldbeskouing en prioriteite namens ’n ander groep besluit, is laasgenoemde groep nie vry nie.

In ons samelewing skreeu die sosialistiese, staatsentraliserende en liberaal-individualistiese ideologieë die hardste, veral by monde van die heersende elite en die media. Wanneer ’n mens egter na die lewens en waardes van die meeste gewone burgers en gemeenskappe kyk, is dit egter duidelik dat dié ideologieë nie strook met hul lewens- en wêreldbeskouing nie.

Ons as gewone burgers en gemeenskappe moet met selfvertroue getrou aan ons woorde en ons wêreld bly dink, praat en doen – want daardeur sal ons waarlik lééf, en die mooi toekoms wat ons graag vir ons kinders wil hê, deur die Here se genade, verwesenlik.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners