|

Regulasies vir 10-jaar-bestuurderslisensies moet sonder uitstel deurgevoer word, meen AfriForum

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)

AfriForum het vandag kommentaar ingedien op die konsepwysigings van die Nasionale Padverkeersregulasies, 2000, wat bepaal dat sommige kodes bestuurderslisensies voortaan 10 jaar geldig sal wees. Alhoewel AfriForum die wysigings ondersteun, meen die burgerregteorganisasie dat dié regulasies sonder enige verdere uitstel deurgevoer moet word.

“Hierdie konsepregulasies is ’n stap in die regte rigting, maar dit is belangrik dat die beginselbesluit so gou moontlik deurgevoer word sodat ander uitdagings rakende die lisensiëring van bestuurders aandag kan geniet,” sê Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder.

AfriForum het tog in sy kommentaar uitgewys dat die regulasies uitgebrei kan word om alle kodes in te sluit. Die konsepwysigings aan artikels 100, 101 en 108 van die betrokke regulasies bepaal onder meer dat nuwe lisensiekaarte van kodes A1, A, B en EB voortaan 10 jaar geldig sal wees. Die lisensies met kodes C1, C, EC1 en EC sal steeds slegs vir vyf jaar geldig wees. Dit beteken in praktyk dat lisensiekaarte vir bestuurders van motorfietse en voertuie ligter as 3 500 kg (met of sonder ’n sleepwa) by die nuwe geldigheidstydperk ingesluit sal word, terwyl lisensiekaarte vir enige voertuie wat swaarder is, se geldigheidstydperk onveranderd bly.

AfriForum meen dat die vereistes rondom professionele bestuurspermitte (PrDP’s) reeds voorsiening maak dat bestuurders wat passasiers of vrag teen betaling vervoer, meer gereeld hul sig moet laat toets as bestuurders van gesinsmotors. Om lisensies vir swaarvoertuie steeds net vir vyf jaar te laat geld, gaan talle mense ontmoedig om hulself te laat oplei om swaarvoertuie te bestuur.

“Dit sal juis nadelig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie wees as minder jongmense swaarvoertuie kan bestuur, aangesien dié soort lisensies dikwels ’n vereiste vir werksaansoeke is. Dit kan boonop wetteloosheid aanmoedig en talle ongelisensieerde en onopgeleide bestuurders op die paaie tot gevolg hê,” sê Boshoff.

“Desnieteenstaande is daar op die verlenging besluit en debat oor die fynere bepalings van die regulasies moet nie veroorsaak dat dit langer neem vir die beginsel om praktyk te word nie.”

AfriForum sal intussen voortgaan om druk op die Departement van Vervoer te plaas om nuwe lisensiekaartdrukkers aan te skaf sodat toekomstige opeenhopings in die uitreik van lisensiekaarte vermy kan word.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf