Die Hennops: Hoeveel besoedeling kan ons samelewing duld?
Deur Marais de Vaal, Omgewingsakeraadgewer by AfriForum
Onlangse foto’s van die Hennopsrivier in Centurion wys ’n rivier wat onder ’n tapyt van vullis verdwyn. Die beelde het met reg groot verontwaardiging veroorsaak, juis omdat die besoedeling skielik onmoontlik is om te ignoreer.
Die vullis het egter nie oornag daar verskyn of ontstaan waar die foto’s geneem is nie. Die moeiliker vraag is: Hoe kan soveel mense, instellings en programme al jare daaraan werk om besoedeling van die rivier te bekamp, terwyl dit telkens jaar na jaar versleg?
Die eenvoudige antwoord op ’n komplekse probleem is dat die Hennops as een rivierstelsel funksioneer, terwyl die bestuur daarvan tussen verskeie afsonderlike instellings verdeel is.
Die opvangsgebied strek oor dele van die Johannesburg-, Ekurhuleni- en Tshwane-metro’s. Besoedeling wat stroomop in sytakke beland, word deur die Hennops stroomaf na die Hartbeespoortdam gedra. Tog word verantwoordelikheid verdeel tussen munisipaliteite, provinsiale owerhede en nasionale departemente wat afsonderlik met water, sanitasie, afval, stormwater, menslike nedersettings en wetstoepassing handel.
Die rivier se vloei volg swaartekrag, nie munisipale grense nie.
Vir dekades is die Hennops reeds die onderwerp van forums, rehabilitasieprojekte, skoonmaakveldtogte, regulatoriese ingrypings en interregeringsplanne. Burgerlike organisasies doen terselfdertyd besondere werk om afval te verwyder en dele van die rivier te herstel. Tog dui die jongste foto’s daarop dat hierdie pogings nog nie die stelsel as geheel fundamenteel verander het nie.
Een rede is dat baie ingrypings besoedeling aanpak nadat dit reeds die rivier binnegedring het. Skoonmaakveldtogte kan tonne vullis verwyder, maar keer nie noodwendig onwettige vullisstorting nie. Dieselfde geld vir slik wat stroomaf verwyder word, terwyl onwettige sandontginning en erosie stroomop voortduur. Om die vloei van besoedeling te verminder, moet stukkende rioolpype en pompstasies herstel, betroubare vullisverwydering gelewer en onwettige storting voorkom word.
Dieselfde probleem kom voor by die owerhede wat vir hierdie stelsels verantwoordelik is. ’n Forum kan geskep word om kommunikasie te verbeter sonder om enigiemand die begroting of mag te gee om infrastruktuur te herstel. ’n Inspekteur kan ’n besoedelingsbron identifiseer, maar dit waarborg nie dat herstelwerk volg of iemand vir voortgesette nie-nakoming aanspreeklik gehou word nie.
Dit is ’n klassieke stelselmislukking. Terwyl verskillende rolspelers elk ’n deel van die probleem probeer oplos, bly die groter stelsel gefragmenteer en lewer dit telkens dieselfde resultaat.
Daar is egter ’n flikkering van hoop. Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria se uitspraak in die Redefine Retail-saak het in Junie vanjaar ’n interregeringstaakspan onder geregtelike toesig geplaas. Daar is bepaal dat die drie metro’s en relevante nasionale en provinsiale owerhede moet saamwerk, watergehalte gereeld moet moniteer, projekte en verantwoordelike instellings moet identifiseer, befondsingsmeganismes moet ondersoek en kwartaalliks oor vordering moet verslag doen.
Die belang van hierdie uitspraak is dat die hof poog om die institusionele reaksie in ooreenstemming te bring met die geografiese werklikheid van die rivierstelsel. Maar selfs geregtelike toesig kan nie vullis verwyder, rioolpype herstel of rioolsuiweringsaanlegte bedryf nie. Dit moet steeds deur die bestaande instellings gedoen word. Net die tyd sal leer of dié nuwe raamwerk uiteindelik die vloei van besoedeling sal verminder.
Miskien is die ongemaklikste vraag egter groter as enige hofuitspraak: As ’n rivier dekades lank onder ons neuse kan versleg, hoeveel waarde heg ons werklik aan die natuurlike stelsels waarvan ons afhanklik is?



