|

Regering kan nie verantwoordelikheid oor AGOA-beëindiging ontsnap nie

AfriForum hou president Cyril Ramaphosa en ander ANC-leiers in die regering direk verantwoordelik vir die kennisgewing vanaf die Amerikaanse administrasie van sy voorneme om Suid-Afrika se status as begunstigde onder die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) vanaf 1 Januarie 2027 te beëindig, sowel as die werksverliese wat daaruit sal voortspruit.

Ramaphosa en sy regering se buitelandse beleid, asook die ondertekening van die Onteieningswet op 23 Januarie 2025, het volgens AfriForum direk bygedra tot die Amerikaanse president, Donald Trump, se aankondiging slegs tien dae later dat die VSA teen Suid-Afrika gaan optree. AGOA stel uitdruklike vereistes oor die beskerming van private eiendomsreg en bepaal dat begunstigde lande nie Amerikaanse nasionale veiligheids- of buitelandsebeleidsbelange mag ondermyn nie.

Volgens Werner Human, AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof, plaas die regering se buitelandse beleid ideologiese nostalgie met lande soos Kuba, Venezuela en Iran bo die belange van gewone Suid-Afrikaners.

“Daar is geen betekenisvolle onderskeid tussen die ANC se buitelandse beleid, teenoor dié van die regering nie. Vir die ANC gaan dit oor noue party-belange en faksie-gevegte, eerder as ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika,” voeg Human by.

AfriForum het reeds in April 2024 in ’n skrywe aan Ramaphosa gewaarsku oor die gevare wat die Onteieningswet vir eiendomsreg inhou en voorstelle gemaak dat die bepalings wat private eiendomsreg bedreig, geskrap word. Daar was geen antwoord op dié skrywe nie. Die afgelope paar jaar het AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging ook deurlopend voorstelle aan die Presidensie gemaak om die voortslepende dispuut met die VSA op te los, insluitend spesifieke voorstelle oor AGOA vanaf Solidariteit.

“Ter slot van sake is dit die afwesigheid van ’n politieke wil aan die kant van president Ramaphosa en die regering om ’n oplossing met die VSA te vind wat nou daartoe lei dat gewone burgers die prys betaal vir die ANC se politieke selfsug,” sê Human.

In sy kennisgewing het Trump hoop uitgespreek dat Suid-Afrika gehoor sal gee aan die VSA se kommer en weer in aanmerking sal kom vir AGOA-voordele.

AfriForum sal voortgaan om ’n opbouende rol te speel om te verseker dat kwessies soos die “Kill the Boer”-dreunsang, die beskerming van eiendomsreg, en rassewette aangeroer word – in die belang van die land.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik