|

Hanroe Erasmus: Van ’n geleende R150 tot suksesvolle onderneming – dít is Genade Shoppie

Deur Chanté Kelder

Verandering en onsekerheid is nie vir Hanroe en Kirsten Erasmus ’n nuutjie nie. Hierdie paartjie het in Januarie 2020 hul lewens in Sun City opgepak om na Johannesburg te verhuis ter wille van beter toegang tot skole en mediese dienste vir hulle twee jong kindertjies, min het hulle geweet dat die COVID-19-pandemie hul wêreld – soos soveel ander – heeltemal sou omdop nie. Hier is Hanroe, een van vanjaar se top 5-finaliste in AfriForum se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, se verhaal.

Hanroe Erasmus, mede-eienaar van Genade Shoppie

Hanroe het skaars by ’n hotel in Rosebank as sjef begin werk toe die gasvryheidsbedryf in dié tyd tot stilstand gedwing is. Die paartjie het besluit om die aanvanklike drie weke van die inperking saam met hul twee kinders by Hanroe se ma op sy grootwordplaas buite Secunda, Genade Plaas, deur te bring. Hier het sy ma rou Jersey-melk en -melkprodukte vervaardig en aan die plaaslike gemeenskap gelewer.

Drie weke word toe maande en ná Hanroe se salaris aanvanklik gehalveer is en later heeltemal weg moes val toe die hotel se deure noodgedwonge moes sluit het dié boerseun besef hy moet nou plan maak.

“Ek het nooit gedink ek sou my eie besigheid begin nie. My pa het ’n suksesvolle rekenaaronderneming gehad, maar nadat hy in 2002 sy grootste kontrak verloor het, het my ouers binne ’n paar maande feitlik alles verloor. Daardie ervaring het my bang gemaak vir entrepreneurskap. Ek het die risiko raakgesien lank voor ek die moontlikhede kon raaksien,” vertel Hanroe.

In Augustus 2020 het Hanroe sy ma gevra of dit moontlik sal wees dat hy en Kirsten sop en tuisgemaakte brood kon maak om dan saam met haar melkbestellings in die dorp afgelewer te word. Hy het R150 by sy ma geleen om hul bestanddele te koop en só het hulle hul eerste bestelling gemaak: vier liter sop en twee brode.

“Dit was min, maar genoeg om die geleende geld aan my ma terug te betaal en die volgende bestelling van 13 liter sop en agt brode aan te pak.”

Teen September 2020 het daardie nederige pot sop en twee brode gelei tot ’n klein winkeltjie waar die plaas se produkte, gebak en etes wat Hanroe en Kirsten in die plaaskombuis voorberei het, verkoop kon word. Genade Shoppie is gebore!

’n Jaar later, in September 2021, kon hulle die onderneming verder uitbrei toe hulle ’n geleentheid gekry het om ’n groter winkel met ’n kombuis by ’n Sasol-vulstasie te huur.

“Ons grap vandag dat die Here lankal ’n plan vir ons in Secunda gehad het. Ons het sedert 2017 allerhande verskonings gehad om nie te trek nie, totdat ons in 2020 uiteindelik moes luister. Ons geloof en die mense wat ons langs die pad gehelp het bly ’n groot deel van ons storie.”

Hoewel hulle aanvanklik met sop en brood begin het, het Hanroe en Kirsten vinnig besef dat daar ’n behoefte was aan ordentlike, tuisgemaakte etes vir mense wat nie elke dag tyd het om inkopies te doen en te kook nie.

Volgens Hanroe het hulle geweet dat die konsep van tuisgemaakte kos wat verkoop word, nie uniek is nie, maar hulle het besef dat hulle geleentheid in die uitvoering daarvan sou lê.

“Van dag een af wou ek hê die kos moet herinneringe by mense wakker maak en dat mense by ons moet voel asof hulle by familie of vriende kom kuier.”

Vandag het Hanroe en Kirsten groot planne vir hierdie winkel wat uit nood, met behulp van ’n geleende R150, gebore is. Benewens die winkel waar mense daagliks tuisgemaakte etes kan koop bied die Erasmus-egpaar ook by die kleiner funksielokaal by hul huis, ook bekend as HuisKombuis, maandelikse fynproewer-etes en privaat geleenthede aan.

“Die hart van die onderneming is steeds eenvoudig: natuurlik en tuisgemaak, met persoonlike diens. Ons maak kos wat mense aan hul oumas se kombuise laat dink, met die sorg en standaarde wat ek uit my loopbaan as sjef saambring. Ons wil hê iemand moet met goeie kos huis toe gaan en voel dat hulle welkom was. Genade Shoppie is met liefde en deursettingsvermoë gebou en ek glo mense kan dit aanvoel.”

Hanroe meen dat verskeidenheid een van Genade Shoppie se sterkpunte is, iets wat hulle van hul mededingers onderskei.

“Ons daaglikse ete herhaal nie binne ’n siklus van vyf weke nie, en ons wissel die geure van ons gebak af. Ons het ook ’n gekwalifiseerde dieetkundige wat deel is van ons span en wat ons help met die balans van ons etes.”

Ontmoet die man agter Genade Shoppie – Hanroe Erasmus

Dit is vir Hanroe en Kirsten belangrik om hul kliënte te ken en hulle ’n rede te gee om keer op keer terug te kom.

“Baie van ons gereëlde kliënte het al soos familie geword. Ons ken hul stories en hulle ken ons s’n. Dit beteken ook dat ons kliënte die vrymoedigheid het om direk vir ons te sê wanneer iets werk of wanneer ons iets moet verbeter.”

Omdat Hanroe self weet hoe dit voel om op moedverloor se vlakte te wees is dit vir hom en Kirsten belangrik om mense wat werkloos is, op te hef. Genade Shoppie het tans 19 mense in diens wat opleiding ontvang het, en nou as ’n goed geoliede masjien saamwerk.

“Een van my grootste foute was om te dink dat meer personeel noodwendig beteken dat meer werk gedoen sal word. Ons het aan die begin mense aangestel om druk te verlig, sonder om altyd genoeg tyd aan opleiding en duidelike verantwoordelikhede te gee. Ek het geleer dat ’n goed opgeleide span met ’n duidelike werkverdeling dikwels veel meer kan vermag.”

Hanroe en Kirsten beplan om Genade Shoppie binnekort verder uit te brei deur ’n aanlyn winkel sodat mense buite Secunda ook van dié produkte kan koop.

“Die belangrikste deel sal egter bly dat die produk en die ervaring wat die koper kry ooreen moet stem met die belofte wat ons maak.”

Oor sy wens vir Genade Shoppie se nalatenskap sê Hanroe dat dit vir hom belangrik is dat dié winkel onthou moet word vir kos wat met sorg gemaak is, en vir hoe kliënte by hulle behandel is.

“Hulle moet kan sê dat hulle altyd welkom gevoel het en geweet het hulle kan ons vertrou met die kos wat hulle vir hul gesinne gekoop het.”

“Ek hoop ons personeel sal onthou dat hulle iets hier geleer het, dat ons hoë standaarde gehad het en dat hulle ’n kans gekry het om te groei. As mense verder kom in die lewe omdat hulle deel was van Genade Shoppie, sal ek besonder trots daarop wees.”

Hy hoop dat hul nalatenskap aan hul kinders sal wys wat geloof, harde werk en deursettingsvermoë kan doen.

“En persoonlik hoop ek mense sal onthou dat ek graag my kennis gedeel het en regtig lief was vir die kos én die mense. Die woord genade herinner my aan hoeveel ons ontvang het. Ek hoop iets daarvan bly sigbaar in wat ons aan ander gee.”

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf