|

Privaatvervolgingseenheid help beheerliggaam van Pretoria-Wes-skool om te verseker dat onderrig onverpoosd voortgaan

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)
Klankgreep: Barry Bateman (Engels)

Die ondersteuning van AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan die voorsitter van Laerskool Generaal Beyers se beheerliggaam, Themba Mthembu, en Jealous Ngobeni, ’n onderwyser by dié skool, het gelei tot die wysiging op ’n interim bevel wat Mthembu voorwaardelike toegang tot die skoolterrein gun. Wesley Barnard, ’n mede-onderwyser, wat in ’n ouer petisie aan die Gautengse Departement van Onderwys genoem is, het aansoek gedoen om ’n beskermingsbevel teen Mthembu te bekom. Dié bevel het Mthembu verhoed om die skoolgronde te betree en hom sodoende verhoed het om sy pligte as beheerliggaamvoorsitter na te kom. Barnard het ook aansoek gedoen vir ’n beskermingsbevel teen Ngobeni vir beweerde teistering, inmenging in sy daaglikse werk en inmenging by kwessies wat verband hou met die bestuur van die skool. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en adv. Phylis Vorster het op Woensdag, 9 April, vir Mthembu en Ngobeni in die teisteringshof in Pretoria verteenwoordig. Die saak is vir verhoor uitgestel tot 30 Junie 2025.

Mthembu het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader aangesien die slegte verhouding tussen die beheerliggaam en die geskorste skoolhoof, Rabua Nuruddin, en die departement se versuim om in te gryp, inmeng met die behoorlike funksionering van die skool. Die privaatvervolgingseenheid het Mthembu in Januarie vanjaar gehelp om strafregtelike klagtes teen Nuruddin in te dien vir beweerde misbruik van skoolhulpbronne ná sy na bewering tydens die skoolvakansie in Desember 2024 drie keer die skool se kredietkaart onregmatig gebruik het. Nuruddin is intussen na die departement se hoofkantoor verplaas.

Die dag ná Nuruddin geskors is, het Barnard en twee ander onderwysers na bewering verskeie items van die skoolgronde af verwyder. Mthembu het toe klagtes van diefstal teen Barnard en die ander onderwysers aanhangig gemaak. Die interim bevel wat ex parte deur Barnard bekom is, is op 4 Maart 2025 op Mthembu en Ngobeni beteken.

Dié skool het ook die nuusblaaie gehaal in November 2024 ná die Valke op die skool toegeslaan het en op verskeie bewyse beslag gelê het. Dit het te make met ’n aangeleentheid wat by die Valke aangemeld is oor die beweerde misbruik en wanbesteding van skoolhulpbronne.

“Die Departement van Onderwys se versuim om beslissend op te tree in die sake wat by hulle aangemeld word, het daartoe gelei dat ’n onderwyser ’n ongewone en onnodige klag van teistering teen ’n mede-onderwyser en die voorsitter van die beheerliggaam ingedien het wie toe in ’n hof verdedig moes word. Dit is mnr. Ngobeni se hartsbegeerte om sonder inmenging onderrig te kan lewer, terwyl mnr. Mthembu gretig is om voort te gaan met die uitstekende werk wat die beheerliggaam tot dusver gedoen het,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Advokate Nel en Vorster sal toesien dat die antwoordstukke ingedien word, dat al die relevante feite aan die hof voorgelê word en sal ook op 30 Junie vir Mthembu en Ngobeni verteenwoordig wanneer die saak weer voorkom.

Soortgelyke plasings