|

Pretoria-waterkrisis: Metro verskuif blaam na inwoners, terwyl miljoene liter water verlore gaan – AfriForum

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

AfriForum hou vol dat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit nie die vermoë het om die stad se waternetwerk doeltreffend te bestuur nie, toekyk hoe miljoene liter drinkwater verlore gaan en nou die verantwoordelikheid vir die voortslepende waterkrisis op Pretorianers wil afskuif. Dié kritiek volg in reaksie op die metro se herhaaldelike verklarings die afgelope week waarin inwoners gemaan is om waterverbruik te verminder om die ineenstorting van die Klapperkop- en Garsfontein-stelsels te voorkom en bewerings dat die watertekorte spruit uit “uitsonderlike hoë verbruik”. Inwoners in groot dele van die stad het reeds dae lank nie water nie of gaan gebuk onder uitermatige lae waterdruk.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, benadruk dat die huidige waterkrisis grootliks toegeskryf kan word aan die metro se onvermoë en versuim om tydige instandhouding te doen. Hy meen dat die metro se vermorsing van water die grootste enkele rede vir die tekorte is en dat die herstel van waterlekkasies nie geprioritiseer word nie.

Volgens die jongste beskikbare syfers op die metro se eie dataportaal gaan byna 41% van alle grootmaatwater wat van verskeie bronne in die metro se watervoorsieningstelsel ingevoer word, verlore en bereik dit nooit die verbruiker nie. Luidens ’n brief wat AfriForum Vrydag aan die metro gerig het, staan die huidige vlak van waterverliese boonop ver bo die metro se eie gestelde teiken van 15%.  

Die Tshwane-metro se eie databasis toon dat waterverliese van alle grootmaatwater in die metro se stelsel tans op nagenoeg 41% staan.

“Byna 41 liter uit elke 100 liter drinkwater wat die metro ontvang, stroom af in die stad se paaie, land in dongas of syfer bloot weg in die grond. Dit kom nooit eens naby die krane van inwoners wat kwansuis water vermors nie,” kap De Vaal. “Hoewel inwoners ten alle tye water verantwoordelik moet gebruik, lê die probleem vir watertekorte veel eerder by die metro en sal die tekorte voortduur vir so lank as wat instandhouding agterweë gelaat word.”

In sy brief aan die metro dring AfriForum aan op antwoorde rakende die huidige watervoorsienings- en watergehalteprobleme wat in Pretoria en Bronkhorstspruit aangemeld is. AfriForum eis onder meer:

  • inligting oor die gefaktureerde waterverbruik in die stad en bewyse dat verbruik wel bo normale verbruik vir dié tyd van die jaar is;
  • ’n vergelykende uiteensetting van die publiek se werklike waterverbruik teenoor fisiese waterverlies, kommersiële waterverlies en onregmatige verbruik;
  • die omvang van waterverlies weens die onlangse lekkasie by die Garsfontein-reservoir en die storting van water uit die Findlay-reservoir na aanleiding van die besoedelingsvoorval wat hier aangemeld is; en
  • bevindinge van ondersoeke na beide voorvalle en inligting oor of verouderde infrastruktuur of drukbestuur tot die lekkasie en besoedeling bygedra het.

Die metro moet teen Donderdag terugvoer gee op AfriForum se eise.

“Die metro se beloftes om watertoevoer later vandeesweek te herstel gaan nie die werklike probleem regstel nie – ’n verbintenis tot die instandhouding van dié waternetwerk wat die metro se nagenoeg 4 miljoen inwoners van water moet voorsien, is nou noodsaaklik. Waarskuwings is al vir te lank geïgnoreer en daar kan nie meer bloot ’n pleister op dié probleem geplak word nie. Inwoners kort die betroubare voorsiening van veilige drinkwater, nie nog verskonings of verskuiwing van blaam nie,” sluit De Vaal af.

AfriForum het intussen sy noodwaterpunte in Waterkloof Glen en Faerie Glen oopgestel aan inwoners. Gemeenskapslede is welkom om hier ’n maksimum van 40 liter water per persoon per dag te tap. Die punte is geleë te Rooigrasstraat 541, Waterkloof Glen en by die NG Kerk Valleisig, Tipperaryweg 758, Faerie Glen en is daagliks oop vanaf 07:00 tot 19:00.

Die organisasie sit intussen sy druk op die metro voort om die dringende herstel van watervoorsiening en die prioritisering van deurlopende lekkasies te bewerkstellig.

Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria, by die AfriForum-noodwaterpunt in Faerie Glen.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik