AfriForum gaan groot in Volksrust
Volksrust sukkel soos baie ander dorpe in Mpumalanga met munisipale verval. Eerder as om te sit en kla het AfriForum se tak in dié dorp egter besluit om met ’n reuseslaggatprojek iets aan ten minste een van die knellende probleme in die dorp te doen. Dié tak het omtrent twee weke gelede die projek van stapel gestuur om die gevaarlikste slaggate op die hoofroetes te herstel.
Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Mpumalanga en Limpopo, sê daar is reeds ander rolspelers wat by die projek ingekoop het. “Coastal Hire het die masjinerie vir die projek geborg en ons het ’n skenking van 100 sakkies teer ontvang. Ongelukkig gebeur daar nie veel in die dorp as ons nie self inspring om die werk te doen nie. Inwoners is raadop en dit is hoekom die projek aangepak is.”
Benewens die skenking van teer het AfriForum ’n verdere 150 sakkies teer vir die projek bekom en dit behoort die herstelwerk tot aan die einde van November aan die gang te hou, maar Bekker sê hulle hoop die gemeenskap sal met skenkings die projek ’n verdere hupstoot gee sodat daar selfs meer slaggate herstel kan word.
Slaggate word uitgesny en ordentlik oopgekap. Die basis van die pad word herstel en geseël. Teer word eers ná al hierdie voorbereiding gedoen is in die gat gegooi en goed vasgestamp.


“Ons wil nie hê die gate moet weer oor ’n paar maande ’n probleem wees nie en dus maak ons seker ons herstel dit ordentlik. Ons hoop om twee persone aan te stel wat elke dag in Volksrust kan werk om nie net slaggate te herstel nie, maar ook skoon te maak en ander take te verrig om sodoende weer die dorp skoon, netjies en veilig te maak,” verduidelik Bekker.
Johan Kennard, voorsitter van AfriForum se Volksrust-tak, sluit by Bekker aan. “Politieke beloftes maak nie slaggate toe nie. Ons maak dit reg en boonop op ’n hoër standaard as wat die Pixley Ka Seme Plaaslike Munisipaliteit dit doen.
“Ons sal nie wag vir die munisipaliteit nie. Ons is moeg vir die gehawende omgewing waaraan ons blootgestel word. Dit is belangrik vir ons kinders en geslagte daarna se voortbestaan om nou hierdie verval stop te sit,” sluit Kennard af.



