Veiligheid
|

Pretoria se veiligheidsrolspelers leer by AfriForum

AfriForum het op 5 April opleiding aan gemeenskapslede, wat direk betrokke is by gemeenskapsveiligheid in Pretoria, by die NG Kerk Valleisig in Faerie Glen aangebied. Die opleiding het twee modules behels wat hand aan hand met gemeenskapsveiligheid saamloop, waaronder Regs-en-risiko en Ek het iemand geskiet, wat nou?.

’n Totaal van 30 lede het die opleiding bygewoon. Die opleiding skakel direk in by die konsep van ’n steunkring, wat AfriForum tans besig is om op ’n nasionale vlak op die been te bring. ’n Steunkring fokus daarop om alle rolspelers in gemeenskapsveiligheid nader aan mekaar te bring. Deur gesamentlike opleiding aan te bied en by te woon, weet elke rolspeler in die steunkring wat al die ander deelnemers se sterkpunte is en so vul hulle mekaar aan om een doelwit te bereik – om gemeenskappe te beveilig.

Opleiding wat aan verskeie rolspelers aangebied word, bewerkstellig samewerking tussen die rolspelers. Net soos die steunkringe wat AfriForum beoog om daar te stel, is daar ook groot fokus op die beveiliging van infrastruktuur en om kameranetwerke uit te brei. AfriForum is van mening dat hierdie doelwitte slegs suksesvol kan wees as alle rolspelers saamwerk om ’n gesamentlike doelwit te bereik.

“Dit is van kardinale belang om gemeenskapslede deurlopend toe te rus met die nodige kennis veral wanneer hulle besig is om hul gemeenskappe op hul eie tyd te beveilig. Hierdie twee modules wat aangebied is, gee ’n in diepte kyk na wat landsburgers mag en nie mag doen tydens hul werksaamhede om hul gemeenskappe te beveilig nie,” sê De Wet Ungerer, AfriForum se hoof van Veiligheid vir die noordstreek.

AfriForum beoog om meer van hierdie opleidingsessies aan te bied en wil die gemeenskap en ander veiligheidsrolspelers aanmoedig om betrokke te raak sodat veiliger omgewings sal seëvier.

Raak vandag by jou naaste AfriForum-veiligheidstruktuur betrokke. Stuur ’n e-pos na veiligheid@afriform.co.za.

Soortgelyke plasings