Ben en Gideon, die bielies van die Bosveld, wat vergeet het om af te tree
Deur Ilze Nieuwoudt
Op 68-jarige ouderdom geniet talle mans stil-stil hul aftrede. Hulle laat die gejaag agter en raak rustig. Ben van Aswegen en Gideon Jansen van Vuuren van Mookgophong (voorheen bekend as Naboomspruit) het egter “vergeet” om af te tree. Wanneer die son sy kop oor dié deel van die Bosveld stoot, pak dié tweemanspan die bakkie en vaar die dorp in. Nie op soek na winskopies of kuierplekke nie, maar op soek na verval, slaggate, verweerde padmerkers of stukkende stoptekens. En dan begin die werk.

Ben woon reeds langer as ’n dekade op dié dorp. Hy het hier probeer aftree, maar dit wou nie werk nie, bieg hy. Van stilsit en oudword wil die voormalige finansiële bestuurder van ’n bosboumaatskappy niks weet nie.
“Ek doen my eie tuinwerk en ek het ook ’n groentetuin, maar dit hou my nie besig genoeg nie – en ek kan nie heeldag voor die TV sit nie,” skerts hy.
Hy en sy werksvriend, Gideon, ’n oudspoorweëman, het vroeër algemene instandhouding in Gholfpark, ’n veilige buurt in die suidwestelik deel van die dorp, gedoen. Hier het hulle paaie en parke in stand gehou en toegesien dat die straatligte brand. Die voorsitter van die inwonersvereniging het Ben en Gideon later voorgestel aan André van der Schyff, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak. “Sedertdien is dié twee altyd gewillig om te help waar hulle ook al benodig word,” sê André.
Die ewige rooimiere en ’n behoefte om hul tuisdorp te help, het Ben en Gideon oortuig om by die tak betrokke te raak en hul werk ook buite die grense van Gholfpark voort te sit. Die tak voorsien die verfrollers, verf, asfalt en enige ander hulpmiddels wat hulle mag nodig kry, en op hul beurt gee Ben en Gideon hul tyd en uiters gewillige hande.



Oor waarom hy besluit het om sy oudag in die wind, weer, en Bosveld-son te spandeer terwyl hy slaggate herstel of padmerkers oorverf, is Ben duidelik: “Dit pla my as ek dorp toe ry en ek sien hoe mense se karre seerkry. Ek het die tyd. En ek kan dit nog doen.”
Die Ben-en-Gideon-tweemanspan het twee jaar gelede ieder en elk van dié dorp se meer as 140 stopstrate oorgeverf. Dan is daar, benewens die tientalle ander projekte wat hulle aangepak het, die groot brug op die pad na Roedtan waar die padmerkers ook met moeite oorgeverf is. Intussen sit hulle die verfwerk voort en knap op waar nodig, verf voetoorgange, spoedhobbels en vul die een na die ander slaggat.
Dit is ’n veeleisende taak, want selfs die verwery vereis pure mannekrag om die swaar staal stensils te hanteer en om ’n slaggat eers oop te kap, skoon te maak en dan sorgvuldig te herstel, sit ook nie in enige man se broek nie.
Tog sien Ben uit na elke geleentheid om terug te ploeg in sy dorp. “Dit is lekker en bevredigend,” verduidelik hy.
Wanneer Ben en Gideon hul ure met ’n kwas of stamper in die hand in die strate van die dorp deurbring, is daar elke dan en wan ’n inwoner wat stop, geselsies maak en selfs ’n koeldrank aandra.
En dit is vir hom genoeg, meen Ben. Dit gaan nie oor erkenning nie, maak hy dit duidelik waar hy vandag vir eens rustig in sy stoepkamer in Gholfpark sit. Die tevredenheid is duidelik op sy gesig, want elke dag se werk laat behoorlik dié bielie van die Bosveld se beker oorloop van trots vir sy geliefde “Naboom”.



