Ontevredenheid oor eiendomswaardasies in Tshwane Metro vereis dringende ondersoek – AfriForum
Die Tshwane Metro se nuutste eiendomswaardasierol wat vroeër vandeesmaand bekendgestel is, lok reeds groot ontevredenheid uit by eienaars en vereis volgens die burgerregteorganisasie AfriForum dringende ondersoek. Inwoners van dié metro word daarom aangemoedig om inligting rakende buitensporige verhogings aan AfriForum deur te gee as deel van die organisasie se eiendomswaardasieveldtog wat pas afgeskop is. AfriForum beoog om met die publiek se hulp ’n onafhanklike ondersoek van stapel te stuur om die billikheid van aangepaste waardasies in dié metro te ondersoek, en indien nodig die waardasierol in geheel of vir spesifieke buurte te betwis.
Volgens Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, wil dit uit die klagtes wat AfriForum reeds oor die nuwe waardasies ontvang het, voorkom asof dit in sekere gevalle gekenmerk word deur uitermatige hoë verhogings. Sy voer aan dat dit daarom noodsaaklik is om die billikheid van verhogings te bepaal om die moontlikheid van geteikende streeksgebonde, oordrewe verhogings – met die doel om die metro se begroting te laat klop – te ondersoek.
“Dit is geen geheim nie dat die Tshwane Metro swaar trek weens hoë Eskom-skuld, waterverliese, vervallende infrastruktuur en die wanbetaling van munisipale skuld deur huiseienaars, ondernemings en staatsinstellings,” verduidelik Steffens. “’n Verhoogde eiendomswaardasie dra direk by tot hoër eiendomsbelasting en derhalwe hoër inkomste vir die metro. In gevalle waar die politieke wil ontbreek om onnodige uitgawes te besnoei of doeltreffende skuldinvordering te doen, is die instelling van hoër belasting – soos hier in die geval van eiendomsbelasting – ’n vinnige en maklike manier om die munisipale koffers te vul.”
Die billikheid van verhogings is daarom van kritieke belang, benadruk Steffens.
Inwoners van die metro het nou tot Vrydag 2 Mei geleentheid om amptelik beswaar teen die aangepaste eiendomswaardasie by die metro aan te teken voordat hulle in Julie volgens dié waardasie aangeslaan sal word.
“As ’n burgerregteorganisasie wat veg daarvoor dat staats- en munisipale fondse reg bestuur word, is dit ook belangrik om te verseker dat dit regmatig bekom word. Daarom wil ons deur hierdie veldtog onder meer die persentasieverhoging bepaal en vasstel of sekere areas deur hoër en onbillike verhogings geteiken word,” sê Steffens. “Die metro het die mandaat om eiendomsbelasting in te vorder. Dié reg mag egter nie misbruik word deur onbillike belastingsvlakke nie. Dit gaan baie meer verg om die sukkelende Tshwane-metro reg te ruk as om net die metro se beursie vol te stop.”
Neem só deel aan AfriForum se eiendomswaardasieveldtog
Besoek die Aksies en petisies-blad op AfriForum se webblad en voorsien die inligting rakende die vorige en nuwe waardasie van jou eiendom(me) in die Tshwane Metro. Die waardasie wat tot einde Junie 2025 geld, verskyn op jou munisipale rekening, terwyl die aangepaste waardasie nagespoor kan word by https://propertyvaluations.tshwane.gov.za/.