|

Ngwathe verkeer in ’n krisis: Burgemeester ignoreer hofuitspraak en wil wéér appelleer sonder raadsbesluit

Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)

Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)


AfriForum waarsku dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se jongste bewerings dat die munisipaliteit “stabiel en funksioneel” is en dat dienslewering hier “sonder onderbreking voortgaan”, ’n desperate poging is om die publiek ’n rat voor die oë te draai en ten koste van dienslewering aan mag vas te klou. Victoria de Beer-Mthombeni, burgemeester van die Ngwathe-munisipaliteit, het dié bewerings Vrydag (20 Februarie) in ’n amptelike mediaverklaring gemaak in reaksie op ’n uitspraak wat vroeër die dag in die Vrystaatse Hooggeregshof gelewer is. Daarin is bepaal dat die hofbevel wat op 20 Junie verlede jaar in AfriForum se guns gelewer is, ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof, onmiddellik geïmplementeer moet word.

Die munisipaliteit het intussen aangedui dat dit op Vrydag se uitspraak gaan appelleer. Dit bring die totale aantal pogings van dié munisipaliteit om aan mag vas te klou ten spyte van hofuitsprake ten gunste van provinsiale ingryping hier op minstens vyf te staan nadat die saak eers in die Hooggeregshof misluk het; aansoek om verlof tot appèl in dié hof en die Hoogste Hof van Appèl van die hand gewys is; die munisipaliteit hom nou na die Konstitusionele Hof wil wend; én nou teen die goedkeuring van verlede week se artikel 18(3)-aansoek wil appelleer.  

Die Ngwathe-munisipaliteit se kennisgewing om teen die uitspraak te appelleer moet nog geliasseer word. Dié appèl moet volgens wet op ’n dringende basis aangehoor word. Vir die tussentyd mag die 20 Junie 2025-hofbevel nog nie geïmplementeer word nie. 

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, hou vol dat bewerings van stabiliteit en ononderbroke dienslewering in dié munisipaliteit, ’n mite is. Volgens inligting wat AfriForum van die plaaslike gemeenskapsorganisasie Save Ngwathe ontvang het, is daar in Parys alleen binne slegs 72 uur (van Vrydag 20 Februarie tot Sondag 22 Februarie) meer as 60 wateronderbrekings en 3 000 kragonderbrekings aangemeld. Sommige huishoudings het binne net een dag drie kragonderbrekings ondervind en verskeie klagtes van skade aan elektriese ware weens die onderbrekings is ook aangemeld.

“Benewens krag- en wateronderbrekings vloei riool steeds op verskeie plekke ongehinderd die rivier in of deur die strate. Die lewering van krag-, water- en sanitasiedienste is van die mees basiese dienste wat ’n munisipaliteit ingevolge die Grondwet verplig is om te lewer.  Om onder hierdie omstandighede te beweer dat die munisipaliteit nie in ’n krisistoestand verkeer nie, is misleidend en wys dat die burgemeester geheel en al verwyderd is van die werklikheid waarmee die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit daagliks gekonfronteer word,” verduidelik Pretorius.

In reaksie op die aanduidings dat die munisipaliteit beplan om teen Vrydag se uitspraak te appelleer, stel Pretorius dit duidelik: “Hierdie uitspraak vereis nou optrede – nie verdere vertraging en regsmaneuvers om aanspreeklikheid te ontduik nie.”

AfriForum het intussen skriftelik op die burgemeester se mediaverklaring gereageer en voortgesette appèlaansoeke – wat met belastingbetalers se geld gefinansier word, terwyl basiese dienste steeds nie gelewer word nie – skerp gekritiseer. Die burgerregteorganisasie beskou voorts die munisipaliteit se voorneme om teen die jongste uitspraak te appelleer, sonder dat ’n behoorlike raadsvergadering daaroor gehou is, as ’n verontagsaming van die beginsels van goeie bestuur en ’n ondermyning van deursigtigheid en aanspreeklikheid.

“Die inwoners van Ngwathe verdien beter. Hulle verdien ’n munisipale bestuur wat aanspreeklikheid aanvaar, die hof respekteer en dienslewering, eerder as persoonlike en politieke oorwegings, prioritiseer,” sê Pretorius. “AfriForum sal voortgaan om die gemeenskap se belange te beskerm en alle beskikbare regsmiddele aan te wend om te verseker dat reg en orde, goeie regering en basiese dienslewering in Ngwathe herstel word.”

Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê dat die gemeenskappe in die munisipaliteit nou moedeloos raak oor die kat-en-muis-spel wat die burgemeester speel. “Ons wil nou aksie sien. Kundiges moet nou in Ngwathe oorneem en dienslewering herstel. Ons beweeg net agteruit en daar moet weer harmonie kom in Parys. Ongekende skade word in hierdie stadium aangerig en omdat die munisipaliteit dit wegsteek, bly talle inwoners in die duister oor die omvang daarvan,” sluit Burger af. 

Die Ngwathe-munisipaliteit se mediaverklaring wat op 20 Februarie uitgereik is en waarin beweer word dat die munisipaliteit “stabiel en funksioneel” is en dat dienslewering hier “sonder onderbreking voortgaan”.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik