|

AfriForum bewaar erfenisskat in Bloemfontein

Deur Marthinus Koekemoer

Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se planne om ’n reeks munisipale eiendomme te vervreem is vir eers van die baan ná AfriForum en dié metro verlede week ’n skikking hieroor buite die hof bereik het. Die geskiedkundige Naval Hill-terrein en die nuwe Tempe-lughawe sou volgens die Mangaung-metro se planne uitverhuur of verkoop word. AfriForum het egter nou ’n interdik bekom waarvolgens die metro binne 15 dae bewyse moet lewer dat regmatige prosesse gevolg is om dié eiendomme te kan vervreem.

AfriForum het in Maart vanjaar ’n hofaansoek gebring om te verseker die vervreemding van meer as 150 munisipale eiendomme in Bloemfontein gestaak word. Die aansoek was ook daarop gemik om toe te sien dat die Mangaung-metro sy wetlike verpligtinge kragtens die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies (MFMA) en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA) nakom.

In sy aansoek het AfriForum die hof gevra om die vervreemding van eiendomme te stop en om die metro te dwing om rekords te verskaf van die proses wat gevolg is om met vervreemding voort te gaan.

Volgens Dalena Beyers, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, het AfriForum met die interdik daarin geslaag om vir eers ’n stokkie te steek voor die vervreemding van die betrokke eiendomme. Voor die saak nog in die hof kon draai, het die metro se regspan AfriForum genader om ’n skikking rakende die vervreemding van die eiendomme te sluit.

“Die vervreemdingproses is derhalwe vir eers gestaak en koste is aan ons toegestaan. Die metro moet ook die rekords rakende die proses wat gevolg is, aan ons verskaf,” verduidelik Beyers. “Ons is wel oortuig dat die metro nie die regte prosesse gevolg het nie en indien hul rekords dit bevestig, sal ons die saak enduit beveg.”

Só stel die Mangaung-metro sy vervreemdingsplan in werking

In 2025 is kennisgewings in twee publikasies geplaas om die publiek van die moontlike verkope of uithuur van munisipale eiendom in die Mangaung-metro te verwittig. Dié kennisgewings het egter nie melding gemaak van wat presies met elkeen van die eiendomme beplan word nie.

Die metro het wel tot ’n mate sy planne vir Naval Hill onthul en aangedui dat die terrein geoormerk is vir die ontwikkeling van ’n pretpark of sogenaamde “bewaringseiendom”.

Naval Hill is ’n bekende historiese baken in Bloemfontein. Vroeë inwoners van Bloemfontein het van Tafelkop of Platberg gepraat, maar ná die Britte se inval van die stad in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog het Lord Roberts ’n paar skeepskanonne op die kop geposisioneer. Die kop is daarna na Naval Hill herdoop. Selfs ná die Franklin-natuurreservaat in 1928 hier uitgelê is, is dié naam behou. Daar is tot vandag toe ’n klipstapel van witgekalkte klippe in die vorm van ’n perd wat die Britse magte tydens die oorlog gebruik het om rigting aan te dui. Vandag is dié kop ook die tuiste van die Naval Hill-planetarium.

Dieselfde resep ook elders toegepas

Die Mangaung-metro se plan om eiendom in die metro te vervreem is nie uniek nie. Dit kom volgens Beyers ook telkens in ander dorpe en stede voor.

AfriForum het onlangs soortgelyke pogings deur die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit gestop toe dié gepoog het om parke in dié dorp te vervreem.

“Baie munisipaliteite sukkel finansieel en die verkope van eiendom is ’n vinnige manier om geld in te kry. Dit is egter net ’n korttermynoplossing wat tot langtermynverliese sal lei. As een munisipaliteit dit regkry om eiendom op onwettige maniere te verkwansel, sal ander dit ook probeer doen. AfriForum sal dus aanhou om hierteen te baklei,” sluit Beyers af.

Beyers sê die publiek moet van openbaredeelnameprosesse gebruik maak om kapsie teen hierdie soort optrede aan te teken. AfriForum tree natuurlik ook namens sy lede op om munisipaliteite verantwoordbaar te hou.

Besoek wordlid.co.za om deel van die oplossing te word.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners