|

Nelspruit-buurtspan tree in waar dienslewering tekortskiet

Die AfriForum-buurtspan in Mbombela (Nelspruit) het die afgelope tyd die gaping gevul wanneer dienslewering in die Mbombela munisipale gebied ontbreek het. Dié span het etlike hektaar gras gesny, 60 sakke vullis van openbare spasies verwyder en slaggate met 400 kg teer opgevul.

Die span het onder meer die sypaadjie op Dr Enos Mabuza-rylaan, wat grens aan die Steiltes-woonbuurt en 2 km ver strek, skoongesny, asook die gras van verskeie openbare parke in Skylab-, Enterprise- en Melkwegstraat gesny. Hiermee saam is ses ton tuinvullis deur die span verwyder. Bykans 13 hektaar se gras is in Februarie in die munisipale gebied gesny sodat voetgangers van die sypaadjies en parke gebruik kan maak.

Die toestand van die padinfrastruktuur op Uitkykweg en Boogstraat het tot so mate versleg dat padveiligheid ’n groot bekommernis onder motoriste geraak het. Die AfriForum-buurtspan het ingespring en die slaggate in hierdie gebied herstel.

Volgens Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak, is hierdie tipe projekte noodsaaklik om die agteruitgang van openbare ruimtes teë te werk.

“Die instandhouding van sypaadjies, parke en paaie is in wese die munisipaliteit se verantwoordelikheid, maar die realiteit is dat dienslewering toenemend tekortskiet. AfriForum se buurtspan werk daarom daagliks om die gaping te help vul en praktiese oplossings te bied sodat ons dorp nie verder agteruitgaan nie. Ons glo dat gemeenskappe self ’n verskil kan maak deur eienaarskap van hul omgewing te neem.”

AfriForum se Nelspruit-buurtspan bly daartoe verbind om ’n netjiese, skoon en veilige omgewing vir almal te skep. Hierdie projekte is moontlik gemaak deur die toewyding van vrywilligers en die finansiële ondersteuning van AfriForum-lede. Die publiek word daarom aangemoedig om by AfriForum betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf