| |

Tshwane-metro se waterkrisis bereik kritieke punt ná jare van infrastruktuurverwaarlosing inwoners inhaal

Klankgreep: Dalena Beyers (Afrikaans)

AfriForum sê daar word nou van inwoners verwag om die las van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se waterkrisis te dra, ten spyte daarvan dat daar nie genoegsame bewyse is dat die huidige druk deur oormatige gebruik van die eindgebruiker veroorsaak word nie. Dit volg ná twee foute wat vandeesweek die metro se eie waterstelsel gekniehalter het. Die metro doen nou ’n dringende beroep op inwoners wat deur die Garsfontein- en Klapperkop-stelsels bedien word, om hul waterverbruik te verminder. Hierdie beroep volg op ’n Rand Water-verklaring van 20 Oktober waarin gemeld is dat oormatige munisipale waterverbruik die grootmaatwatervoorsieningstelsel onder erge druk plaas.

Hoewel AfriForum die belangrikheid van verantwoordelike waterverbruik beklemtoon en bewus is dat warm weer die vraag na water laat toeneem, is die metro se tydsberekening met hierdie waarskuwing kommerwekkend. Op 19 Oktober het ’n pypkoppeling wat gebreek het by die Garsfontein-reservoir, watervoorsiening aan drie wyke onderbreek en op 21 Oktober het die metro bevestig dat water wat uit die Findlay-reservoir voorsien word, met riool besoedel is nadat ’n rioolpyp gebars het; dit het genoodsaak dat die reservoir leeggemaak en die stelsel uitgespoel moes word.

Terwyl inwoners aangemoedig word om hul waterverbruik te verminder, laat hierdie voorvalle ’n basiese vraag ontstaan: Hoeveel water gaan verlore as gevolg van gebreke binne die munisipale stelsel self?

Die jongste syfers op die platform vir ’n waterveilige Gauteng, wat op 30 September gepubliseer is, dui die metro se totale waterverliese op 43,8% aan, met fisiese verliese op 35,0% – meer as twee keer die gestelde teiken van 15% vir fisiese verliese. Die platform toon ook dat waterverliese oor die langer termyn toegeneem het. Hoewel hierdie syfers op sigself nie bewys dat inwoners se waterverbruik nie toegeneem het nie, toon dit duidelik dat ’n aansienlike deel van die grootmaatwater wat die metro se stelsel binnekom, nie die eindgebruiker bereik nie.

AfriForum versoek die metro daarom om bewyse te lewer – gebaseer op gemete en gefaktureerde verbruik – dat die eindgebruikers se verbruik tans bo normale seisoenale vlakke is. Die metro behoort ook bekend te maak hoeveel water verlore gegaan het as gevolg van die probleme by Garsfontein en die besoedelingsvoorval by die Findlay-reservoir, en wat ondersoeke na die oorsake daarvan aan die lig gebring het.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, behoort inwoners water verantwoordelik te gebruik, maar hulle behoort nie die verantwoordelikheid te dra vir ’n probleem wat moontlik tot ’n groot mate veroorsaak word deur tekortkominge binne die munisipale stelsel nie. “Die metro rapporteer fisiese waterverliese van 35% – meer as dubbel sy gestelde teiken – en tog word inwoners herhaaldelik aangesê om minder water te gebruik.”

“Verantwoordelikheid moet met beheer gepaardgaan. Inwoners beheer die krane in hul huise. Die metro beheer die pype, reservoirs, drukbestuur, instandhouding en herstelwerk. Voordat inwoners gevra word om meer te doen, moet die metro bewys lewer dat oormatige verbruik deur eindgebruikers werklik die huidige krisis veroorsaak.

AfriForum het aan die metro geskryf en hierdie inligting, asook ’n reaksie binne vyf werksdae, versoek.

Aangesien die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November plaasvind, behoort inwoners duidelike en meetbare inligting van die metro te eis oor waterverbruik, waterverliese, infrastruktuurfoute en die vordering met herstelwerk.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf