Meer as 400 voertuie pak AfriForum-massapatrollie in Wes- en Oos-Kaap, lê meer as 5 600 km af
AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture in die Wes- en Oos-Kaap het die afgelope naweek kragte saamgesnoer met ander veiligheidsrolspelers en tydens ’n massapatrollie – waaraan 401 voertuie deelgeneem het – ’n totaal van 5 610 km afgelê en 19 afsonderlike veiligheidsinsidente hanteer. Dié massapatrollie wat van Vrydagmiddag (24 Julie) tot die vroeë oggendure van Saterdag (25 Julie) geduur het, was deel van ’n grootskaalse AfriForum-veiligheidsoperasie waaraan die organisasie se buurt- en plaaswagte oor die hele land heen deelgeneem het.

In die Wes- en Oos-Kaap het 505 AfriForum-buurtwaglede, saam met 300 rolspelers van onder meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike verkeerspolisiedienste en wetstoepassingsowerhede, aan dié massapatrollie deelgeneem.
Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, meen hierdie gesamentlike operasie en die suksesse wat hiertydens behaal is, beklemtoon die waarde van samewerking tussen AfriForum se buurtwagte, wetstoepassingsowerhede en plaaslike veiligheidstrukture. “Operasies soos dié het nie net ’n afskrikeffek op misdadigers in die algemeen nie, maar is onder meer ook ’n waardevolle hulpmiddel in die voorkoming van opportunistiese misdade soos inbrake en motordiefstal,” verduidelik Erasmus.
In die Suid-Kaap het AfriForum se Oudtshoorn-buurtwag, in samewerking met plaaslike wetstoepassers, verskeie betreders van privaat eiendomme verwyder. ’n Verdagte met vermoedelik gesteelde goedere in sy besit, is ook danksy doeltreffende kommunikasie en koördinering tussen die AfriForum-buurtwag en sekuriteitsmaatskappy op die terrein van ’n plaaslike skool aangekeer.
AfriForum se Bellville-buurtwag het op hul beurt saam met amptenare van die Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit ’n gebeurlikheidsplan ingeoefen. Tydens dié oefening is drie verskillende misdaadscenario’s nageboots, naamlik inbrake by voertuie en kerke sowel as voertuigkapings. AfriForum se noodknoppietoepassing is ook suksesvol tydens die oefening getoets, met onmiddellike reaksie vanuit AfriForum-beheerkamer.
In die Oos-Kaap het AfriForum se buurtwagte ’n steunkringwerksessie aangebied om samewerking, kommunikasie en koördinering tussen veiligheidstrukture in dié streek verder op te skerp. AfriForum se Walker Drive- en Colchester-buurtwagte het ook magsvertoonoperasies uitgevoer om sigbaarheid te verhoog.
“Die sukses van hierdie massapatrollie bevestig weereens dat georganiseerde gemeenskappe in samewerking met wetstoepassingsagentskappe en ander rolspelers, die vermoë het om deur eenvoudige aksies soos patrollies, ’n veiliger gemeenskap vir almal te skep. Ons bedank elke vrywilliger en vennoot wat hul tyd en hulpbronne beskikbaar gestel het om van hierdie inisiatief ’n sukses te maak,” sluit Erasmus af.
AfriForum moedig gemeenskappe aan om by hul plaaslike buurtwagte betrokke te raak en saam te werk om veiliger gemeenskappe te skep. Klik hier vir meer inligting en om by jou plaaslike AfriForum-buurtwag in te skakel.



