Rustenburg-buurtspan skrik nie vir slaggate óf harde werk nie



Die Rustenburg-buurtspan is ’n bewys dat ’n klein spannetjie ’n reuseverskil kan maak. Hierdie buurtspan bestaan uit slegs twee lede, Jan van Zyl, voorman van dié span, en JJ Else. Saam maak hierdie duo seker dat Rustenburg skoon, netjies en slaggat-vry bly.
Van Zyl het sowat drie jaar gelede by die buurtspan betrokke geraak nadat hy deel van die Rustenburg-tak se bestuur geword het. Hy het besef dat dit nodig is dat gemeenskapslede meer betrokke en toegewyd moet wees ten einde die omgewing te verbeter. Ná sy aftrede het hy besluit om sy tyd en vaardighede in die gemeenskap aan te wend en hy het op ’n voltydse basis by die buurtspan aangesluit.
Else het ’n jaar gelede by die buurtspan aangesluit nadat hy gesien het hoe Van Zyl besig was om slaggate te herstel. Op daardie stadium het hy nie ’n vaste werk gehad nie en aangebied om Van Zyl te help. Daarna het hy gereeld teruggekeer en met verskeie projekte in die dorp gehelp. Hy is hardwerkend en altyd bereid om te help, dít is wat uiteindelik daartoe gelei het dat hy aanvanklik as dagloner aangestel is en later ’n permanente pos by die Rustenburg-buurtspan losgeslaan het. Else se storie wys dat AfriForum-buurtspanne ’n verskil in die gemeenskap maak én help om werksgeleenthede vir hardwerkende mense te skep.
Sedert Februarie vanjaar het die span 18,5 ha gras in die dorp gesny, 6,35 ton teer gebruik om slaggate te herstel en 380 liter verf gebruik om padmerke en spoedhobbels oor te verf. Die buurtspan poog veral om die paaie rondom skole in stand te hou om sodoende die omgewing vir leerders veiliger te maak.
Daarbenewens het AfriForum se Rustenburg-tak ’n herwinningsprojek spesifiek ten opsigte van plastiekbottels, by twee skole in die dorp en die buurtspan is daarvoor verantwoordelik om die herwinningsmateriaal by die skole te gaan haal en by ’n herwinningsentrum in te gee. Daar is reeds 55 vragte herwinningsmateriaal weggery wat neerkom op ongeveer 900 kg in totaal.
“Ons sny gras, maak slaggate reg, verf padmerke en ry herwinningsmateriaal weg. Dit klink na klein goed, maar op die ou end maak dit ’n verskil. Niemand wil elke dag deur slaggate ry of sukkel om verby lang gras te sien nie. Ons wil help dat Rustenburg netjieser lyk en dat die paaie veiliger is vir motoriste,” sê Van Zyl.
Bespreek ’n buurtspan hier en help om ’n verskil in jou omgewing te maak.



