AfriForum help slagoffer van geslagsgebaseerde-geweld ná polisie aanrandingsdossier sluit

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag vir Emmah Mailula, ’n slagoffer van geslagsgebaseerde-geweld, ondersteun toe sy ’n klagte van dwarsboming van die gereg ingedien het teen die twee lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat haar aanrandingsaak gesluit het sonder om dit te ondersoek. Dié klag is by die Mamelodi-Oos-polisiestasie ingedien, dieselfde kantoor waar sy in April vanjaar ’n saak aangemeld het vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Mailula is op 11 April vanjaar na bewering by haar huis in Mamelodi aangerand. Sy het ernstige wonde aan haar gesig opgedoen en het ’n saak by die SAPD aanhangig gemaak. Sy is egter op 30 April deur middel van ’n SMS van die SAPD af in kennis gestel dat die senior openbare vervolger by die Mamelodi-landdroshof haar saak van die hand gewys het en dat die dossier dus gesluit is. Mailula het besoek afgelê het by die Mamelodi-Oos-polisiestasie om agter die kap van die byl te kom en uit te vind waar die dossier is, daar het sy weer teenstrydige inligting van beamptes ontvang. Op 5 Mei het ’n beheerbeampte by hierdie polisiestasie haar meegedeel dat haar saak nooit gesluit moes word nie en onderneem om verdere terugvoer aan haar te verskaf. Mailula het egter geen terugvoer verder ontvang nie.
Nadese het Mailula besluit om AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp te nader. In haar beëdigde verklaring sê Mailula dat sy vertroue verloor het in die SAPD en die wyse waarop hulle haar saak hanteer het en dat sy daarom die mandaat aan die privaatvervolgingseenheid gee om namens haar op te tree en tot dié saak toe te tree.
Die privaatvervolgingseenheid het ’n skrywe aan die senior openbare vervolger by die Mamelodi-landdroshof geskryf wie later bevestig het dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie geweier het om die saak te vervolg nie. Inteendeel, die openbare vervolger het reeds op 22 April versoek dat die ondersoekbeampte verdere ondersoek instel. Terwyl die ondersoekbeampte egter vir drie maande lank op ’n opleidingskursus was het ’n ander polisiebeampte versoek dat ’n kolonel die dossier moet sluit. Die kolonel het die dossier gemerk as “teruggetrek” wat daartoe gelei het dat die dossier in die Mamelodi-Oos-polisiestasie se stoor opgeëindig het.
Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die SAPD geen outoriteit gehad om hierdie saak te sluit nie aangesien hierdie besluit alleenlik by die NVG lê. “Hierdie besluit om die saak te sluit ten spyte van die NVG se instruksies dat verdere ondersoek ingestel moet word, kan neerkom op dwarsboming van die gereg en bedrog. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het reeds daarin geslaag om drie sake van geslagsgebaseerde-geweld te vervolg, insluitend ’n verkragtingsaak, waar die polisie ’n soortgelyke onwilligheid getoon het om verdere ondersoek na die klagtes in te stel. Wanneer hierdie soort gedrag plaasvind moet ’n mens wonder hoeveel duisende ander slagoffers op hierdie wyse deur die polisie weggewys word of wie se sake nie ondersoek word nie en uiteindelik daartoe lei dat geregtigheid nie vir hierdie slagoffers geskied nie en dat die oortreders nie tot verantwoording geroep word nie.”
“Dit is juis hierdie soort sake wat president Cyril Ramaphosa genoop het om sy oudit- en herstelplan bekend te stel met sperdatums en take vir beamptes in die strafregstelsel. Hierdie sake van geslagsgebaseerde-geweld, wat in die voorste linie van die polisie se interaksie met die publiek staan, is egter só algemeen dat dit dui op die ineenstorting van die strafregstelsel,” sê Bateman.
Mailula het buite die polisiestasie, ná sy die klag ingedien het, gesê dat sy gevoel het asof die strafregstelsel haar gefaal het. “Hulle het my teleurgestel. Hulle het my in die steek gelaat want ek het hierdie saak geopen, maar dit het stil gestaan. Geen terugvoer, niks. So ek moes na AfriForum toe gaan om die geregtigheid te kry wat ek nodig het.”
Mailula het bygevoeg dat sy nie die enigste een is wat deur hierdie soort van ding gaan nie. “Ek kry so skaam vir die SAPD dat hulle nie geslagsgebaseerde-geweld as ernstig beskou nie. Daar is elke liewe dag ’n vrou wat sterf omdat vroue, meeste van die tyd, na polisiestasies toe gaan om sake te open, maar dan word hulle sake net weer gesluit.’
“Ek is so teleurgesteld en kry eintlik skaam om te sê dat as ek in die toekoms ’n probleem het weet ek nie of ek die vertroue sal hê om na ’n polisiestasie toe te gaan en ’n saak oop te maak nie want hulle is nie reg om ons, die vroue van Suid-Afrika, te help nie. Ek is baie teleurgesteld in hulle.”
Die privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om met die SAPD en NVG te skakel ten einde te verseker dat beide sake behoorlik ondersoek en vervolg word.



