|

AfriForum dring aan op spoedige rehabilitasie van Knysna-tuinvullisterreine

Organisasie se rehabilitasieplan al maande by munisipaliteit

AfriForum se Knysna-tak het ’n beroep op die Knysna Plaaslike Munisipaliteit gedoen om sonder uitstel die burgerregteorganisasie se praktiese rehabilitasie- en bestuursplan te implementeer wat die Old Place-tuinvullisterrein in Knysna weer vir die publiek toeganklik sal maak. Dié terrein asook die een in Sedgefield is tans ontoeganklik as gevolg van die volume tuinvullis wat nie verwerk word nie en swak padinfrastruktuur. Die Old Place-tuinvullisterrein in Knysna en die terrein in Sedgefield se lugspasie – oftewel die volume ruimte op ‘n vullisterrein wat toegelaat is – het al sy kapasiteit bereik en word tuinvullis nou elders onregmatig gestort.

Die huidige situasie kom nie as ’n skok vir AfriForum nie. Die burgerregteorganisasie probeer sedert 2024 om die Old Place-tuinvullisterrein meer toeganklik te maak en het meer as R110 000 bestee om die toegangspad na die terrein te herstel, groot hoeveelhede vullis te verwyder en die terrein gedeeltelik te rehabiliteer. Dié terrein het destyds met AfriForum se nasionale vullisterreinoudit aan slegs 12% van die nakomingsvereistes vir verantwoordelik afvalbestuur voldoen. In 2025 het dié syfer tot 4% gedaal en in 2026 tot slegs 1%.

Oor die jare heen het AfriForum etlike skrywes aan die munisipaliteit gerig, talle vergaderings gehou én ’n volledige rehabilitasie- en bestuursplan ontwikkel en aan die munisipaliteit voorgelê om te implementeer. Tog het dié munisipaliteit versuim om op te tree. Inwoners en plaaslike ondernemings sit nou met geen wettige gebied om tuinvullis verantwoordelik te stort nie.

“Wanneer daar geen wettige terrein is waar inwoners hul tuinvullis kan stort nie, raak dit nie net huishoudings nie, maar ook ondernemings wat daagliks op hierdie fasiliteite staatmaak. Tuindienste kan nie hul werk na behore doen as hulle nêrens het om die vullis te stort nie. Dit lei tot finansiële verliese en verhoog terselfdertyd die risiko van onwettige storting,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum het in sy jongste skrywe aan die munisipale bestuurder ’n dringende vergadering versoek sodat sy rehabilitasieplan so gou moontlik deur die munisipaliteit geïmplementeer kan word. AfriForum wil beide die tuinvullisterreine weer aan die toepaslike wetgewing laat voldoen, die omgewing rehabiliteer, onwettige storting bekamp en die veiligheid van die terreine verbeter.

“Ons doel is eenvoudig: om ’n volhoubare oplossing te implementeer wat die gemeenskap, die omgewing en plaaslike ondernemings bevoordeel. Ons glo die tyd het aangebreek om van beplanning na uitvoering oor te gaan. Hierdie gebeure wys dat die huidige benadering eenvoudig nie werk nie. Die tyd vir uitstel is verby. Wat nou nodig is, is aksie en implementering,” sê Erasmus.

AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots. Sluit vandag nog by die Knysna-tak aan. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel vir Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf