|

Bloem se erfenisskat vir eers veilig ná AfriForum verkoop keer

Dalena Beyers (Afrikaans)

Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit mag nie voortgaan met die verkoop of langtermyn verhuring van 153 munisipale eiendomme nie, aldus ’n skikking wat buite die hof met AfriForum bereik is. Volgens hierdie skikking is ’n interdik nou van krag wat enige verdere vervreemding van geskiedkundige terreine soos Naval Hill in die Franklin-natuurreservaat verhoed. Die munisipaliteit moet nou binne 15 dae bewyse lewer dat die regmatige proses wel gevolg is om dié eiendomme te vervreem.

Dalena Beyers, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die skikking is ’n reuseoorwinning vir die bewaring van Bloemfontein se geskiedenis en die bevordering van billike plaaslikeregeringspraktyke.

“Wanneer ’n munisipaliteit nie behoorlike openbare deelname fasiliteer nie én versuim om billike prosesse te volg, word die beginsels van deursigtigheid en verantwoordelike openbare bestuur ondermyn. Dit is daarom ’n groot oorwinning vir die gemeenskap van Bloemfontein dat hierdie proses gestop is.”

AfriForum is verlede jaar van die voorgenome vervreemding en verhuring van die munisipale eiendomme bewus gemaak en het kort daarna met regstappe begin om dit te stop. Munisipaliteite word deur wetgewing verplig om onder meer behoorlike konsultasie met die publiek te fasiliteer voordat enige munisipale bate verkoop of verhuur mag word. Geen grond mag boonop vervreem word as dit gebruik word om enige dienste aan die publiek te verskaf nie.

“Hierdie eiendomme behoort in wese aan die gemeenskap, nie aan die politieke elite wat dit agter geslote deure wou verhandel nie. Ons kon eenvoudig nie toegelaat het dat ’n strategiese en historiese grondgebied, soos die nuwe Tempe-lughawe en Naval Hill, sonder behoorlike openbare deelname en deursigtigheid vervreem word nie,” sê Christo Groenewald, AfriForum se koördineerder vir Bloemfontein.

Beyers sê dit is te danke aan die paraatheid van Bloemfontein se inwoners dat hierdie proses gestop is en verskeie natuur- en erfenisskatte behoue sal bly.

“Dit is kommerwekkend dat AfriForum hom eers tot die hof moes wend vir die munisipaliteit om aan munisipale wetgewing gehoor te gee. Hierdie geval het egter opnuut bewys dat inwoners deurentyd bewus moet wees van verwikkelinge in hul munisipale gebiede en binne die raamwerk van die wet moet optree om dit teen te staan,” sluit Beyers af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf