Hulle help AfriForum se Eden-buurtspan om baie te vermag
AfriForum se buurtspanne is al regdeur die land bekend vir hul harde werk om hul dorpe skoner en veiliger te maak. Die publiek merk dalk op hoe parkies netjies gemaak word, gras gesny word, padmerkers oorgeverf word en slaggate herstel word en wonder wie hierdie besonderse mense is wat op voetsoolvlak die werk doen.
Een so ’n buurtspan is die gebaseer in die Suid-Kaap se Eden-streek waar drie manne reeds sedert Oktober verlede jaar in Knysna diens doen en nou ook in George, Oudtshoorn en Mosselbaai projekte gaan aanpak. Maar wie is hulle?
Jan Moolman – Voorman
“Ek is oorspronklik van Pretoria waar ek as elektrisiën by ’n groot maatskappy gewerk het. Die gejaag na wind en status het my laat besef ek moet aan myself en vroulief dink en begin om aan ons oudag planne ag te gee,” sê Moolman.
Vier jaar gelede het die Moolmans hul goed gepak en see toe getrek en besef dat die wind nie net sterker waai by die see nie, maar dat daar steeds gejaag moet word.
“Dit was ’n groot aanpassing en ons het gou besef die lewe by die see is nie net vakansie hou nie. Ons het aanvanklik gesukkel om in ons nuwe gemeenskap te integreer, maar die groot verandering was toe ek ’n advertensie op Facebook sien dat AfriForum werkers vir hul buurtspan soek,” vertel Moolman.
Hy het vir die posisie aansoek gedoen en is as voorman van die span aangestel.
“Vinnig het ek weer die waarde van die lewe besef en ook dat ons almal ’n verskil kan maak om ’n beter toekoms vir ons kinders en kleinkinders te skep. As ons almal kan saamwerk kan alles weer vir die land in plek val,” sê Moolman.

Khalio Hector – Buurtspanlid
Hector het, voor hy by AfriForum se Eden-buurtspan aangesluit het, daagliks van 09:00 tot 17:00 as timmerman gewerk.
“Ek was baie opgewonde toe ek werk by die buurtspan gekry het. My pad tot op daardie punt het begin met ’n eenvoudige wens om standvastige werk te kry. As kind het ek gesien hoe alles agteruitgaan en gewens ek kan een dag help om dinge weer te herstel,” sê Hector.
In sy eerste jaar by die buurtspan het Hector geleer dat ’n buurt nie net die huise daarin is nie, maar ook die mense wat daar bly. Hy meen as mense saamstaan kan woonbuurte weer op koers kom.
“Ek het by die span aangesluit, want ek wou nie net sit en kla nie, ek wou help bou aan ’n veiliger buurt – dis mos wat die buurtspan doen. Die span het vir my nuwe vriende en ’n baie groter familie in die buurt gegee. Ek is baie trots om van die begin af deel van hierdie span te wees,” sluit Hector af.

Christo Gouws – Buurtspanlid
Soos Moolman kom Gouws ook oorspronklik van Gauteng. Hy het in Valhalla, Centurion, gewoon. Hy was vir omtrent 15 jaar werksaam by DARO Enterprises, maar het ook by sy plaaslike gemeenskapsforum ingeskakel en het sommige aande patrollies in sy woonbuurt gery.
“Ek en my gesin het in 2024 na die Suid-Kaap verhuis. Ek het eers as vrywilliger by Revive Sedgefield gewerk en toe ’n aanstelling by ’n sekuriteitsmaatskappy gekry. Soos Jan en Khalio het ek toe die buurtspan begin is, daarby ingeskakel,” vertel Gouws.
Gouws sê hy kry baie bevrediging uit sy werk by die buurtspan soos hy sien hoe die projekte wat hulle aanpak, ’n positiewe impak op gemeenskappe het.
“As deel van die buurtspan voel ek of ek deel is van ’n groter familie en ek sien daarna uit om nog baie waardevolle werk te verrig wat tot die gemeenskap se voordeel sal wees,” sê Gouws.

Om meer oor die Eden-buurtspan se werk te lees volg hierdie skakel.



