Nuuskommentaar: Lamola, die Amerikaanse ambassadeur, die gewraakte “kombuis”-stelling en die Klaargepraat-lat
Miskien is dit net daardie tyd van die jaar. Die geduld is min. Die gemoed is laag. En dit is asof selfs die buurman se brak meer kêf as gewoonlik. Praatjies van “heerlike lente” en “Oktober, die mooiste, mooiste maand” is skynbaar lank reeds vergete.
Dit is egter te betwyfel of dit bloot “daardie tyd van die jaar” is wat Leo Brent Bozell III, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, se geduld met die Suid-Afrikaanse regering tot op die randjie van die afgrond gedwing het. Punt is, hy is klaar gepraat. (Amper soos daardie lat wat onnies op skool gehad het – wanneer hy “klaar gepraat” het, moes Klaargepraat maar die praatwerk op die sitvlak doen.)
Oor dié gepraat tussen Suid-Afrika en die Amerikaners is al koerante vol geskryf, lang onderhoude gevoer en vuur aan albei kante van die Atlantiese Oseaan gespoeg. Amerika se stel versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering is voorgelê, maar helaas skop Suid-Afrika vas soos ’n steekse donkie. Oor toegewings om eiendomsreg te beskerm, plaasmoorde te prioritiseer, “Kill the Boer” te veroordeel, en Amerikaanse maatskappye kwyt te stel van swart ekonomiese bemagtiging is daar skynbaar g’n sprake nie.
Dié onbereidwilligheid om selfs net een van dié sogenaamde “asks” van die VSA toe te staan – ondanks maande en maande se gesprekke – het almal nou keelvol, meen Bozell Sondag in ’n onderhoud met Fox Digital News. Volgens Bozell is president Donald Trump en Marco Rubio, die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, se geduld nou op met dié “eindelose gesprekke” en dring hulle nou aan op antwoorde van die Suid-Afrikaners. Die tyd vir praat is verby, het Bozell dit duidelik gemaak.
Bozell se ferm maak-nóú-jou-skuif-benadering het Ronald Lamola, die Suid-Afrikaanse minister van Buitelandse Sake, egter dwars in die krop gesteek. In ’n onderhoud met Sunday Times die afgelope naweek het Lamola aangevoer hy is “verbaas” oor Bozell se standpunt dat “die tyd vir praat verby is”. Hy het na die ambassadeur gekap en volgens ’n berig wat Maandag op Netwerk24 verskyn het, gesê: “Jy kan nie ’n diplomaat hê wat sê die tyd vir praat is verby nie. Dit is ons werk om te praat. As jy dus nie kan praat as ’n diplomaat nie en jy kan nie dialoog voer nie … kom uit die kombuis uit.”
“Jy kan nie ’n diplomaat hê wat sê die tyd vir praat is verby nie. Dit is ons werk om te praat. As jy dus nie kan praat as ’n diplomaat nie en jy kan nie dialoog voer nie … kom uit die kombuis uit.”
Ronald Lamola, minister van buitelandse sake

Die ambassadeur se antwoord hierop op X was reguit en ondubbelsinnig. “Hier gaan ons weer,” het hy geskryf en Lamola se uitlatings bestempel as ’n “persoonlike aanval op ’n Amerikaanse leier […] wat wanneer ek dit veroordeel, wat ek nou doen, sal lei tot ’n démache met ’n vermaning oor ‘ondiplomaties’ wees.”
In reaksie hierop het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, op X gereageer en ook na Lamola gekap as ’n man wat “óf glad nie verstaan hoe om Suid-Afrika se belange eerste te stel nie, óf sy verouderde Koue Oorlog-ideologie dryf hom daartoe om die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA doelbewus te saboteer”.

Die burgerregteorganisasie het selfs teen Donderdag ’n beroep op die vennote in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) gedoen om amptelik beswaar aan te teken teen die ANC se huidige hantering van internasionale betrekkinge met die VSA.
Intussen het Ofentse Davhie, ’n navorsingsgenoot verbonde aan die Centre for Risk Analysis, geen doekies omgedraai in sy kritiek op Lamola wat die afgelope naweek in Business Day verskyn het nie. Davhie meen Lamola se optrede dryf die wig tussen Suid-Afrika en die VSA net dieper en dieper in. Sy antwoord? Ramaphosa moet Lamola uit dié kritieke amp skuif. Nie om noodwendig sake oornag reg te ruk nie, maar om minstens te verhoed dat die skade wat dié minister aanrig end kry.
Maar wat bly nou intussen oor vir die land en sy mense? Solidariteit het vroeër hierdie week gewaarsku dat die verswakkende handelsbetrekkinge met die VSA moontlik op ’n ramp afstuur. ’n Besluit oor Agoa, oftewel die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, sal na verwagting in November aangekondig word en bepaal of Suid-Afrika se plek as begunstigde land in dié ooreenkoms nog in 2027 sal voortaan. Indien die land uit Agoa geskop word, kan meer as ’n halfmiljoen Suid-Afrikaanse werksgeleenthede in die spervuur beland, berig Maroela Media.
En wanneer dit gebeur sal die land en sy mense op die harde manier kennis maak met die Klaargepraat-lat – daardie lat van ouds wat menige houtwerk-onnie sou uitpluk wanneer hy keelvol geraak het vir praat en soebat.



