AfriForum doen beroep op junior RNE-vennote om formeel beswaar aan te teken teen Lamola se roekelose uitlatings
AfriForum doen ’n beroep op die nege kleiner partye in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) om amptelik beswaar aan te teken teen die ANC se huidige hantering van Suid-Afrika se internasionale betrekkinge. Dié beroep kom veral in die lig van Ronald Lamola, minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerkende Regering, se onlangse optrede in, en uitsprake oor, die Verenigde State van Amerika (VSA) en dié se ambassadeur in Suid-Afrika. Dit sluit in Lamola se opmerking dat die Amerikaanse ambassadeur “die kombuis moet verlaat” as hy moeg is om te praat, en sy toespraak by ’n geleentheid van die Demokratiese Sosialiste van Amerika. AfriForum meen dat hierdie en ander optrede van Lamola die wankelende verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA selfs verder kan benadeel.
AfriForum wys daarop dat die RNE uit tien partye bestaan, maar dat slegs een party se standpunte tans bevorder word op die terrein van internasionale betrekkinge. Volgens die Verklaring van Voorneme van die 2024 Regering van Nasionale Eenheid – die rigtinggewende dokument wat deur al tien lede onderteken is – moet daar konsensus wees oor alle beleidsake en dat die beginsel van “voldoende konsensus” toegepas moet word waar konsensus nie bestaan nie. Artikel 11.9 van dié dokument stel ook dat die RNE se buitelandse beleid gebaseer moet wees op die nasionale belang en vreedsame oplossing van geskille. AfriForum voer aan dat hierdie beginsel tans geskend word en dat die ander partye in die RNE nou formeel moet beswaar aanteken, soos wat daar in artikel 20 van dié verklaring voorsiening gemaak word.
Die RNE se geskiloplossingsmeganisme (oftewel die Clearing House-meganisme) is juis gestig as ’n platform waardeur RNE-vennote beleidsgeskille kan oplos en is daarom die ideale kanaal waardeur beswaar teen Lamola se optrede gevoer kan word. AfriForum is nie bewus daarvan dat Lamola se optrede of die betrekkinge met die VSA al enigsins deur die RNE se geskilbeslegtingsvergadering bespreek is nie en meen dat partye wat verskil van die ANC, verplig is om die kwessie na hierdie vergadering te verwys.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, moet die ANC nie meer optree asof hy ’n mandaat het om die land alleen te regeer nie. “Die ANC gedra hom groter as wat hy werklik is. Die ANC is nie groot genoeg om die meerderheid van Suid-Afrika se steun te geniet nie en ook nie groot genoeg om party-alleen ’n diplomatieke oorlog met die VSA aan te pak nie. Daar kan nie toegelaat word dat Lamola die belange van sy party bo die belang van die land en sy mense plaas nie. Daarom moet die ander partye in die RNE nou dringend optree.”
AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging het oor die afgelope tien maande deurlopend gesprek gevoer met die ANC en met Amerikaanse diplomate in ’n poging om vreedsame betrekkinge tussen Washington en Pretoria te behou. AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging het verlede week tydens ’n konferensie dié instellings se vyf antwoorde op Washington se versoeke bekendgemaak en glo dat hierdie antwoorde die huidige geskil in die belang van Suid-Afrika kan oplos.



